GENESIS 18:1-10
GENESIS 18:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het aan Abraham verskyn by die bome van Mamre. Abraham het by sy tent se deur gesit. Dit was op die warmste tyd van die dag. Toe hy opkyk, het hy drie mans voor hom gesien staan. Toe hy hulle sien, het hy na hulle toe gehardloop en laag gebuig voor hulle. Hy het gesê: “Menere, julle sal my gelukkig maak as julle nie by my verbygaan nie. Ek sal 'n bietjie water gaan haal sodat julle julle voete kan was, en dan kan julle kom rus onder die boom. Ek wil vir julle 'n stukkie brood gaan haal, sodat julle weer nuwe krag kan kry. Ek weet dit is hoekom julle na my toe gekom het. Julle kan verder gaan nadat julle geëet het.” Hulle sê toe vir hom: “Goed, jy moet doen soos jy gesê het.” Abraham gaan toe gou na Sara in sy tent en sê vir haar: “Neem gou drie sea van die beste meel, knie dit en bak brood.” Daarna het Abraham gou na die beeste gegaan, hy het 'n mooi jong bul-kalf gevang en hy het dit vir 'n slaaf gegee om gaar te maak. Toe die kalf gaar is, neem Abraham ook botter en melk en hy gee dit vir die mans. Hy het hulle onder die boom bedien, en hulle het geëet. Hulle vra toe vir hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Sy is hier in die tent.” Toe sê die Here: “Ek sal volgende jaar dieselfde tyd terugkom na jou toe. Dan sal jou vrou Sara 'n seun hê. Dit is seker.” Sara was agter Abraham by die tent se deur en sy het dit gehoor.
GENESIS 18:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAARNA het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. Laat hulle tog 'n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. En laat ek 'n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart — daarna kan u verder gaan — want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het. Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke. Daarop loop Abraham na die beeste en vang 'n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het. En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet. Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. En Hy sê: Ek sal oor 'n jaar sekerlik weer na jou toe kom — dan sal jou vrou Sara 'n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was.
GENESIS 18:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het aan Abraham verskyn by die groot bome van Mamre. Terwyl hy op die warmste van die dag by sy tentdeur sit, kyk hy op en sien drie mans daar naby staan. Toe hy hulle sien, het hy van sy tentdeur af na hulle toe gedraf en voor hulle gebuig. Hy het gesê: “Menere, u sal my 'n guns bewys deur nie by my verby te gaan nie. Laat ek eers 'n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom. U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek 'n stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.” Hulle het vir hom gesê: “Goed! Maak so!” Abraham het toe gou na Sara toe in die tent gegaan en vir haar gesê: “Vat gou sestien kilogram meel en knie dit en bak roosterkoeke.” Daarna het hy na die beeste toe gedraf en 'n mooi jong kalf gevat en vir 'n slaaf gegee om dit gou voor te berei. Toe het Abraham botter en melk en die kalf wat voorberei is, gevat en voor die mans neergesit, en hulle het daar onder die boom geëet terwyl hy hulle bedien. Toe vra hulle hom: “Waar is jou vrou Sara?” en hy antwoord: “Hier in die tent.” Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara 'n seun hê.” Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant.
GENESIS 18:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het aan Abraham verskyn by die akkerbome van Mamre terwyl hy op die hitte van die dag by die ingang van sy tent sit. Toe hy opkyk, sien hy skielik drie mans naby hom staan. Toe hy hulle sien, hardloop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig laag teen die grond. Hy sê toe: “My heer, as ek guns vind in u oë, moet dan asseblief nie by u dienaar verbygaan nie. Laat daar 'n bietjie water gehaal word; en was u voete. Maak u dan gemaklik onder die boom. Laat ek 'n stukkie brood bring, en versterk u innerlike, waarna u verder kan gaan; want juis daarom het u by u dienaar langs gekom.” Hulle het geantwoord: “Maak gerus soos u sê.” Abraham gaan toe haastig in die tent in na Sara toe en sê: “Neem gou drie sea meel, gesifte meel; knie dit en bak roosterkoeke!” Daarna hardloop Abraham na die beeste, neem 'n jong bulkalf, met sagte, goeie vleis, en gee dit vir sy dienaar, en hy het dit gou voorberei. Hy neem toe botter, melk en die bulkalf wat voorberei is, en sit dit aan hulle voor. Terwyl hy by hulle onder die boom staan, het hulle geëet. Hulle het vir hom gevra: “Waar is Sara, jou vrou?” Hy het geantwoord: “Daar in die tent.” Toe sê een: “Ek sal beslis na jou terugkom wanneer die seisoen draai. Kyk, Sara, jou vrou, sal dan 'n seun hê.” Sara het gestaan en luister by die ingang van die tent, wat agter hom was.
GENESIS 18:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE het aan hom verskyn in die vlaktes van Mamre, en hy het op die hitte van die dag by die tentdeur gaan sit; En hy slaan sy oë op en kyk, en kyk, drie manne staan by hom; en toe hy hulle sien, hardloop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die grond. En sê: My Meester, as ek nou genade in U oë gevind het, gaan tog nie by U kneg verby nie. Laat tog 'n bietjie water gaan haal word, en was julle voete en rus onder die boom. En Ek sal 'n stukkie brood gaan haal en julle harte vertroos; daarna moet julle deurtrek, want daarom het julle na julle dienaar gekom. En hulle sê: Doen so soos jy gesê het. Abraham het vinnig in die tent na Sara gekom en gesê: Maak gou drie mate fyn meel gereed, knie dit en maak koeke op die vuurherd. Abraham het na die beeste gehardloop en 'n teer en goeie kalf gaan haal en dit aan 'n jongman gegee; en hy het dit gou gemaak. En hy het botter en melk en die kalf geneem wat hy klaargemaak het, en dit voor hulle neergesit; en hy het by hulle onder die boom gaan staan, en hulle het geëet. Hulle sê vir hom: Waar is jou vrou Sara? En hy sê: Kyk, in die tent. En hy het gesê: Ek sal beslis na jou terugkeer volgens die tyd van die lewe; en kyk, jou vrou Sara sal 'n seun hê. En Sara het dit gehoor in die ingang van die tent wat agter hom was.
GENESIS 18:1-10 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het die Here weer na Abraham toe gekom. Dit was in die omgewing van Mamre naby die groot eikeboom. Abraham het by die ingang van sy tent gesit, want dit was die warmste tyd van die dag. Skielik sien hy drie mans voor hom. Abraham het opgespring en die mans gaan groet. Hy het laag gebuig en toe gesê: “Menere, kom asseblief nader. Moenie verder stap nie. Bly hier. Dit is ’n voorreg om u te ontvang. Ek bring vir u ’n bietjie water en dan kan u sommer daar onder die boom gaan sit en u voete was. “Ek kry ook gou ’n stukkie brood, dan kan u iets eet voordat u verder loop. Dit is wonderlik dat u nou juis hier by my verby moes kom.” Hulle antwoord: “Goed dan, ons sal so ’n rukkie bly. Maak maar soos jy sê.” Abraham is vinnig tent toe om vir Sara te sê: “Vat gou ’n paar hande vol van jou beste fynmeel, knie dit en maak vir die mense broodrolletjies.” Daarna is hy op ’n drafstap beeste toe. Hy keer ’n mooi jong kalf uit die trop en vra een van sy werkers om dit vinnig te slag en die vleis gaar te maak. Toe die kos klaar was, het Abraham die kalf saam met botterstukkies en melk vir die gaste voorgesit. Terwyl hulle geëet het, het Abraham eenkant onder die boom gestaan. “Waar is jou vrou, Sara?” het hulle hom gevra. “Daar, daar in die tent,” het hy gesê. Een van hulle sê toe: “As ek volgende jaar op dieselfde tyd weer hier verbykom, sal jou vrou ’n seun hê.” Sara het dit gehoor, want sy het agter hulle in die tent se ingang gestaan.
GENESIS 18:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het weer by die groot bome van Mamre aan Abraham verskyn. Terwyl Abraham so in die middel van die dag by die ingang van sy tent sit, sien hy skielik drie mans daar naby staan. Hy het opgestaan, vinnig na hulle toe gestap en hulle verwelkom deur diep te buig. “Menere,” het hy gesê, “doen my ’n guns en vertoef ’n bietjie hier. Rus eers in die skadu van hierdie boom terwyl ek water laat haal om u voete te was. Terwyl u my dan die eer aandoen om by my te vertoef sal ek ’n bietjie kos laat voorberei sodat u versterk kan word. Vertoef tog ’n rukkie voordat u verder reis.” “Alte seker,” sê hulle. “Doen soos jy gesê het.” Abraham is vinnig terug tent toe en sê vir Sara: “Maak gou! Kry drie mate fynmeel, knie dit en bak roosterkoeke.” Daarna loop hy vinnig na die beestrop toe en kies ’n vet jaaroudkalf en beveel ’n dienskneg om dit gou te slag en voor te berei. Toe die kos gereed was, het hy botter en melk saam met die gaar vleis aan hulle voorgesit. Terwyl hulle eet, het Abraham by hulle onder die boom bly staan om hulle te bedien. “Waar is Sara, jou vrou?” vra hulle hom. “In die tent,” antwoord Abraham. Toe sê een van hulle: “Omtrent hierdie tyd volgende jaar sal ek weer terugkom. Jou vrou Sara sal dan al ’n seun hê.” Sara het by die ingang van die tent agter hom gestaan en afluister.