GENESIS 18:1-10

GENESIS 18:1-10 NLV

Die HERE het weer by die groot bome van Mamre aan Abraham verskyn. Terwyl Abraham so in die middel van die dag by die ingang van sy tent sit, sien hy skielik drie mans daar naby staan. Hy het opgestaan, vinnig na hulle toe gestap en hulle verwelkom deur diep te buig. “Menere,” het hy gesê, “doen my ’n guns en vertoef ’n bietjie hier. Rus eers in die skadu van hierdie boom terwyl ek water laat haal om u voete te was. Terwyl u my dan die eer aandoen om by my te vertoef sal ek ’n bietjie kos laat voorberei sodat u versterk kan word. Vertoef tog ’n rukkie voordat u verder reis.” “Alte seker,” sê hulle. “Doen soos jy gesê het.” Abraham is vinnig terug tent toe en sê vir Sara: “Maak gou! Kry drie mate fynmeel, knie dit en bak roosterkoeke.” Daarna loop hy vinnig na die beestrop toe en kies ’n vet jaaroudkalf en beveel ’n dienskneg om dit gou te slag en voor te berei. Toe die kos gereed was, het hy botter en melk saam met die gaar vleis aan hulle voorgesit. Terwyl hulle eet, het Abraham by hulle onder die boom bly staan om hulle te bedien. “Waar is Sara, jou vrou?” vra hulle hom. “In die tent,” antwoord Abraham. Toe sê een van hulle: “Omtrent hierdie tyd volgende jaar sal ek weer terugkom. Jou vrou Sara sal dan al ’n seun hê.” Sara het by die ingang van die tent agter hom gestaan en afluister.

Gratis leesplanne en oordenkings oor GENESIS 18:1-10

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid