ESÉGIËL 36:1-15

ESÉGIËL 36:1-15 AFR53

EN jy, mensekind, profeteer tot die berge van Israel en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE! So sê die Here HERE: Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en: Die ewige hoogtes het vir ons 'n besitting geword! — daarom profeteer en sê: So spreek die Here HERE: Omdat, ja, omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies 'n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is — daarom, o berge van Israel, hoor die woord van die Here HERE. So spreek die Here HERE tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale, tot die verwoeste puinhope en die verlate stede wat 'n buit en 'n spot geword het vir die oorblyfsel van die nasies wat rondom is — daarom, so sê die Here HERE: Waarlik, in die vuur van my ywer spreek Ek teen die oorblyfsel van die nasies en teen die hele Edom wat my land vir hulleself as besitting bestem het — in volle vreugde van die hart, met diepste veragting — sodat die weiveld daarvan 'n buit sou wees. Daarom, profeteer oor die land van Israel, en spreek tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek spreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die smaad van die nasies gedra het. Daarom, so sê die Here HERE, hef Ek my hand op: Waarlik, die nasies wat rondom julle is — hulle sal hul smaad dra. Maar julle, o berge van Israel, sal jul takke gee en jul vrugte dra vir my volk Israel; want hulle koms is naby. Want kyk, Ek kom na julle en wend My na julle toe, en julle sal bewerk en besaai word. En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word. Ja, Ek sal mense en diere op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees; en Ek sal julle laat bewoon soos in jul voortyd en aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae, en julle sal weet dat Ek die HERE is. En Ek sal mense op julle laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal vir hulle 'n erfenis wees en hulle verder nie meer kinderloos maak nie. So spreek die Here HERE: Omdat hulle vir julle sê: 'n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak — daarom sal jy nie meer mense opeet en jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE. En Ek sal nie meer teen jou laat hoor die skimp van die nasies nie, en die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie; en jy sal jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid