ESEGIËL 36:1-15

ESEGIËL 36:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ En jy, mensekind, profeteer teen die berge van Israel en sê, ‘Berge van Israel, hoor die woord van die HERE! So sê my Heer, die HERE: “Omdat die vyand oor julle gesê het, ‘Aha!’ en ‘Die eeue-oue offerhoogtes – dit het ons eiendom geword!’ ” ’ daarom, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “Omdat, ja, omdat hulle julle aan alle kante verwoes en geteister het, sodat julle die eiendom van die res van die nasies, die onderwerp van skinderstories in alle tale en van lasterpraatjies onder alle volke geword het,” daarom, berge van Israel, luister na die woord van my Heer, die HERE! So sê my Heer, die HERE vir die berge, die heuwels, die stroombeddings, die valleie, die verwoeste puinhope en die verlate stede wat 'n buit en 'n voorwerp van spot geword het vir die res van die nasies aan alle kante – ja, so sê my Heer, die HERE: “Met die vuur van my heilige jaloesie praat Ek teen die res van die nasies en teen die hele Edom, wat met 'n hart vol vreugde en met 'n •siel vol veragting my land vir hulle as eiendom toegeëien het, sodat sy weivelde 'n buit kon wees.” ’ “Daarom, profeteer oor die grondgebied van Israel en sê vir die berge, die heuwels, die stroombeddings en valleie, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, in my heilige jaloesie en in my woede praat Ek, omdat julle die vernedering deur nasies moet verduur.” Daarom, so sê my Heer, die HERE: “Ek self het my hand opgehef en gesweer: Wat die nasies rondom julle betref – hulle sal beslis hulle vernedering moet dra; maar julle, berge van Israel, julle sal lote gee en julle sal vrugte dra vir my volk Israel, want hulle koms is naby. Ja, kyk, Ek is by julle, berge. Ek sal My na julle draai, en julle sal bewerk en beplant word. Ek sal mense op julle talryk maak – dit sal die hele huis van Israel wees, hulle almal. Die dorpe sal bewoon word, en die puinhope sal herbou word. Ek sal mense en vee op julle, berge van Israel, talryk maak; hulle sal vermeerder en vrugbaar wees. Ek sal sorg dat julle bewoon word soos in julle vroeëre tye, en aan julle goed doen, meer as aan die begin. Dan sal julle besef dat ek die HERE is. Ek sal mense, my volk Israel, op julle laat loop, en hulle sal julle in besit neem, en julle sal hulle erfenis wees. Julle sal hulle nie weer kinderloos maak nie.” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Omdat hulle vir julle sê, ‘Land, jy verslind mense, en jy het jou nasie telkens kinderloos gemaak’, daarom, mense sal jy nie weer verslind nie en jou nasie sal jy nie weer kinderloos maak nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “Ek sal jou nie weer die vernedering deur die nasies laat hoor nie; en die bespotting deur volke sal jy nie meer verduur nie. Jou nasie sal jy nie weer laat struikel nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ ”

ESEGIËL 36:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Mensekind, profeteer teen Israel se berge. Sê vir hulle: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE! So sê die oppermagtige HERE: Jou vyande het met jou gespot: ‘Aha! Nou behoort die oeroue hoogtes uiteindelik aan ons!’ Daarom, mensekind, sê vir die berge van Israel die oppermagtige HERE sê: Julle vyande het julle van alle kante aangeval en baie nasies het julle in besit geneem. Julle word bespot en beskinder. Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die oppermagtige HERE. Die oppermagtige HERE praat met die heuwels en berge, die klowe en valleie, en die puinhope en verlate stede wat deur al die nasies rondom julle vernietig en bespot is. So sê die oppermagtige HERE: Ek is woedend oor die res van die nasies, en veral oor Edom, want hulle het hulle daarin verlustig om my land vir hulleself as buit te vat. “Daarom, profeteer aan die heuwels en berge, die klowe en valleie van Israel. Sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: Ek is baie kwaad omdat julle verneder is deur die nasies rondom julle. Daarom, sê die oppermagtige HERE, lê Ek ’n plegtige eed af dat hierdie nasies verneder sal word. Maar die berge van Israel sal groot vrugte-oeste dra om gereed te maak vir my mense wat terugkeer. Hulle kom gou weer huis toe! Kyk, Ek gee vir julle om. Ek kom julle help. Julle grond sal omgeploeg en besaai word. Ek vermeerder die bevolking van Israel, en die stede sal weer bewoon en die puinhope herbou word. En nie net julle mense nie, maar ook julle kuddes sal toeneem en baie word. Ek sal mense bring om weer daar te woon. Ek maak julle selfs nog meer voorspoedig as vroeër. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is. Ek sal sorg dat mense, my volk Israel, weer op julle loop, en julle sal hulle erfporsie wees. Julle sal hulle nooit weer kinderloos maak nie. “So sê die oppermagtige HERE: Die ander nasies spot met julle, berge van Israel. Hulle sê: ‘Israel is ’n land wat sy mense opvreet!’ Maar julle sal nooit weer julle volk en hulle kinders opvreet nie, sê die oppermagtige HERE. Ek sal nie toelaat dat vreemde nasies met julle spot of julle verneder of julle pootjie nie, sê die oppermagtige HERE.”

ESEGIËL 36:1-15 Bybel vir almal (ABA)

“Jy, mens, jy moet my boodskap bring vir die Israel-berge. Jy moet sê: Israel-berge, julle moet hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, sê: Die vyande het oor julle gesê: ‘Ons is bly! Daardie berge wat van die begin af daar was, is nou ons berge.’ Die vyande het dit gesê, en daarom moet jy nou my boodskap vir hulle bring en sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel-berge, die vyande het die mense weggevat wat op julle gewoon het, die vyande het julle laat swaarkry van al die kante. Julle het aan die ander volke behoort. Hulle het slegte dinge oor julle gesê en hulle het julle beledig. Daarom, Israel-berge, julle moet nou hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, praat met die berge en die heuwels, met die waterslote, die valleie, die hope klippe waar niemand woon nie, met die stede waar die mense weg is en waar die vyande alles vir hulle gevat het. Die ander volke daar naby spot en lag oor daardie stede. Die Here, Hy wat Here is, sê: Dit alles het gebeur, en daarom praat Ek. Ek is baie kwaad vir die ander volke en vir al die mense van Edom. Hulle het my land gevat om hulle diere daar te laat wei. Hulle het toe vrolik gelag en hulle het gewys dat hulle dink my land is nie belangrik nie. Daarom, jy moet my boodskap bring oor die land Israel, jy moet praat en jy moet vir die berge en die heuwels, vir die waterslote en die valleie sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Nou praat Ek, Ek is baie kwaad en ontsteld omdat die volke julle verneder het. Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek tel my hand op en Ek belowe dat Ek die volke rondom julle sal verneder. En julle, Israel-berge, die bome op julle sal takke kry en vrugte dra vir my volk Israel, want my volk sal gou terugkom. Ja, Israel-berge, Ek is hier by julle. Ek sal vir julle sorg. Mense sal werk en saai op julle. Ek sal baie mense op julle laat woon, die hele volk Israel sal hier woon. Hulle sal die stede wat nou net hope klippe is, weer bou en hulle sal daar woon. Ek sal die mense en die diere op julle baie laat word. Hulle sal baie word en vrugbaar wees. Ek sal mense op julle laat woon soos voorheen en Ek sal dit beter laat gaan met julle, beter as voorheen. Julle sal weet dat Ek die Here is. Ek sal weer mense op julle laat loop, my volk Israel sal op julle loop. Hulle sal julle vir hulleself neem, en julle sal aan hulle behoort. Julle sal nie weer hulle kinders laat sterf nie.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Israel-berge, die mense sê julle eet mense op, hulle sê julle laat julle mense se kinders sterf. Daarom sê Ek: Julle sal nie weer mense op-eet nie, julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. Die Here het gesê: “Ek sal keer dat die ander volke julle nie weer beledig en spot nie. Julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.”

ESEGIËL 36:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN jy, mensekind, profeteer tot die berge van Israel en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE! So sê die Here HERE: Omdat die vyand ha, ha! oor julle roep; en: Die ewige hoogtes het vir ons 'n besitting geword! — daarom profeteer en sê: So spreek die Here HERE: Omdat, ja, omdat hulle julle van alle kante verwoes en vertrap het, sodat julle vir die oorblyfsel van die nasies 'n besitting kan wees, en julle in opspraak gekom het en deur die mense beskinder is — daarom, o berge van Israel, hoor die woord van die Here HERE. So spreek die Here HERE tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale, tot die verwoeste puinhope en die verlate stede wat 'n buit en 'n spot geword het vir die oorblyfsel van die nasies wat rondom is — daarom, so sê die Here HERE: Waarlik, in die vuur van my ywer spreek Ek teen die oorblyfsel van die nasies en teen die hele Edom wat my land vir hulleself as besitting bestem het — in volle vreugde van die hart, met diepste veragting — sodat die weiveld daarvan 'n buit sou wees. Daarom, profeteer oor die land van Israel, en spreek tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek spreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die smaad van die nasies gedra het. Daarom, so sê die Here HERE, hef Ek my hand op: Waarlik, die nasies wat rondom julle is — hulle sal hul smaad dra. Maar julle, o berge van Israel, sal jul takke gee en jul vrugte dra vir my volk Israel; want hulle koms is naby. Want kyk, Ek kom na julle en wend My na julle toe, en julle sal bewerk en besaai word. En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word. Ja, Ek sal mense en diere op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees; en Ek sal julle laat bewoon soos in jul voortyd en aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae, en julle sal weet dat Ek die HERE is. En Ek sal mense op julle laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal vir hulle 'n erfenis wees en hulle verder nie meer kinderloos maak nie. So spreek die Here HERE: Omdat hulle vir julle sê: 'n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak — daarom sal jy nie meer mense opeet en jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE. En Ek sal nie meer teen jou laat hoor die skimp van die nasies nie, en die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie; en jy sal jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.

ESEGIËL 36:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Mens, nou moet jy as profeet optree vir die berge van Israel. Jy moet sê: Berge van Israel, hoor die woord van die Here! So sê die Here my God: Julle vyand het van julle gesê: ‘A, daardie oeroue hoogtes het nou ons s'n geword!’ “Tree op as profeet en sê: So sê die Here my God: Julle is van alle kante af verwoes en aangeval en julle het die eiendom geword van wat oor is van die ander nasies. Julle is bespot en verneder.” Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die Here my God! So sê die Here my God vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie, vir die verlate puinhope, die onbewoonde stede wat geplunder en verneder is deur die mense wat van die nasies rondom oor is, so sê die Here my God: “Ek praat in gloeiende woede oor wat oor is van die ander nasies en oor die hele Edom wat met soveel genot en minagting my land vir hulleself gevat het om sy weivelde buit te maak. “Tree op as profeet vir die land Israel en sê vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie: So sê die Here my God: Ek praat in woede, in toorn oor die vernedering wat julle deur die nasies aangedoen is!” So sê die Here my God: “Ek lê 'n eed af dat die nasies rondom julle self verneder sal word! Maar julle, berge van Israel, moet sorg dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby. Ek sal na julle omsien en vir julle sorg: julle sal bewerk en beplant word. Ek sal sorg dat daar baie mense op julle woon, die hele Israel. Die stede sal weer bewoon word, die puinhope herbou word. Ek sal sorg dat daar baie mense en diere op julle is, en hulle sal vrugbaar wees en vermeerder. Ek laat mense op julle woon soos vroeër, dit sal met julle beter gaan as vroeër en julle sal besef dat Ek die Here is. Ek sal weer mense op julle laat loop: my volk Israel. Hulle sal julle in besit neem as hulle eiendom en julle sal hulle nie weer kinderloos laat word nie.” So sê die Here my God: “Die mense sê van julle, berge van Israel, dat julle mense opvreet en dat julle julle bewoners afskud. Maar julle sal nie weer mense opvreet nie en nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God. “Ek sal nie toelaat dat julle weer die vernederende aanmerkings van ander nasies moet aanhoor en deur hulle verkleineer word nie. Julle sal nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.

ESEGIËL 36:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En jy, mensekind, profeteer vir die berge van Israel en sê: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE! So sê die HERE; Omdat die vyand teen jou gesê het: Aha, selfs die ou hoogtes is aan ons in besit. Profeteer dan en sê: So spreek die HERE; Omdat hulle julle 'n wildernis gemaak en julle van alle kante verslind het, om 'n besitting te wees vir die oorblyfsel van die nasies, en julle is opgeneem in die lippe van sprekers en is 'n skande van die volk. Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die HERE; So sê die HERE aan die berge en die heuwels, die riviere en die valleie, die verlate puinhope en die stede wat verlate is, wat 'n prooi en bespotting geword het vir die oorblyfsels van die nasies wat rondom; Daarom, so sê die HERE: Waarlik, in die vuur van my ywer het Ek gespreek teen die oorblyfsel van die heidene en teen die hele Idumea, wat my land in hulle besit aangestel het met die blydskap van hulle hele hart, met kwaadwilligheid, om dit as 'n buit te verdryf. Profeteer dan aangaande die land van Israel, en sê aan die berge en die heuwels, die riviere en die dale: So spreek die HERE HERE; Kyk, Ek het gespreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die skande van die heidene gedra het. Daarom, so sê die HERE: Ek het my hand opgehef, waarlik, die nasies wat rondom jou is, hulle sal hul skande dra. Maar julle, berge van Israel, julle moet julle takke uitskiet en julle vrugte dra aan my volk Israel; want hulle is naby om te kom. Want kyk, Ek is vir julle, en Ek sal my tot julle bekeer, en julle sal bewerk en gesaai word. En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, dit alles, en die stede sal bewoon word en die puinhope sal gebou word. En Ek sal mense en dier op julle vermenigvuldig; en hulle sal vermeerder en vrug dra; en Ek sal julle vereffen volgens julle ou eiendomme en aan julle beter doen as aan julle begin; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Ja, Ek sal mense op jou laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal hulle erfdeel wees, en jy sal hulle voortaan nie meer van mense beroof nie. So sê die HERE: Omdat hulle vir julle sê: U land verteer die mense en beroof u nasies; Daarom mag jy nie meer mense opeet nie en jou nasies nie meer beroof nie, spreek die HERE HERE. En Ek sal die mense die skande van die nasies nie meer in jou laat hoor nie, en jy sal die smaad van die volke nie meer dra nie, en jy sal jou nasies nie meer laat val nie, spreek die HERE.

ESEGIËL 36:1-15 Die Boodskap (DB)

“Mens, sê vir die berge van Israel wat Ek jou beveel. Sê vir hulle: Hoor wat die Here sê. Jou vyande het met jou gespot. Hulle het oor jou gelag. Hulle het gesê: ‘Ha, ha! Nou is Israel se berge ons s’n! Ons vat dit vir onsself!’ “Daarom moet jy vir die berge van Israel sê: Jou vyande het jou uit al die windrigtings aangeval. Nou behoort jy aan ’n hele klomp nasies. Hierdie nasies spot met jou en skinder oor jou.” Daarom, berge van Israel, hoor wat die Here, Esegiël se God, vir julle sê. Hy praat met die heuwels en die berge, die valleie en die gelykveld. Hy praat met die bouvalle en die stede in jou wat lankal verlate is sonder ’n lewende siel daarin. Jou land is lankal verwoes, en die nasies oor die hele aarde spot met jou. So sê die Here, die God van Esegiël: “Ek is kwaad vir hierdie nasies. Hulle het My jaloers gemaak omdat hulle met my volk en sy land spot. Ek is veral woedend vir Edom. Hulle het My in die gesig gevat toe hulle hierdie land sommerso vir hulleself gevat het. Hulle het alles gebuit wat hulle in die hande kon kry. “Daarom, sê vir die heuwels en berge van Israel, vir die valleie en die gelykveld, Ek, die Here, Esegiël se God, sê van hulle: Ek is kwaad oor wat die nasies rondom jou jou aangedoen het. Hulle het met jou gespot en jou beledig.” Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sweer dat hierdie nasies volgende aan die beurt sal kom. Hulle sal ook gespot en beledig word. Maar die berge van Israel sal dan goeie oeste lewer. Wanneer my volk terugkom in die land, sal daar te veel vrugte wees om te eet. En daardie dag is naby. My volk kom een van die dae terug huis toe! Sien, Ek gee vir jou om. Ek staan gereed om jou te help. Jou landerye sal weer bewerk word. Jy sal weer oeste lewer. Ek sal Israel ’n groot en sterk volk maak. Die stede wat nou net bouvalle is, sal herbou word. Hulle sal vol mense wees. En nie net jou mense nie, maar ook jou skape en beeste sal baie word. Daar sal weer mense op jou bly, berge van Israel. Dit sal met jou beter gaan as ooit tevore. Dan sal jy weet dat Ek die Here is. My volk sal weer op jou rondloop. Ek sal daarvoor sorg. My volk sal die berge erf. Jy sal nooit weer my volk se kinders se dood veroorsaak nie.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Die nasies spot julle, berge, en sê julle eet julle eie land se mense op. Maar dit sal nooit weer gebeur nie. Die land sal nie weer sy mense doodmaak nie. Ek sê so, en Ek is die Here, Esegiël se God. Ek sal ook nie toelaat dat daardie vreemde nasies langer met jou spot en oor jou lag nie. Hulle sal nie weer aanmerkings oor julle maak nie. Hierdie land se mense sal nie meer doodgemaak word nie,” sê die Here, die God van Esegiël.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid