ESEGIËL 36:1-15

ESEGIËL 36:1-15 NLV

“Mensekind, profeteer teen Israel se berge. Sê vir hulle: Berge van Israel, hoor die woord van die HERE! So sê die oppermagtige HERE: Jou vyande het met jou gespot: ‘Aha! Nou behoort die oeroue hoogtes uiteindelik aan ons!’ Daarom, mensekind, sê vir die berge van Israel die oppermagtige HERE sê: Julle vyande het julle van alle kante aangeval en baie nasies het julle in besit geneem. Julle word bespot en beskinder. Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die oppermagtige HERE. Die oppermagtige HERE praat met die heuwels en berge, die klowe en valleie, en die puinhope en verlate stede wat deur al die nasies rondom julle vernietig en bespot is. So sê die oppermagtige HERE: Ek is woedend oor die res van die nasies, en veral oor Edom, want hulle het hulle daarin verlustig om my land vir hulleself as buit te vat. “Daarom, profeteer aan die heuwels en berge, die klowe en valleie van Israel. Sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: Ek is baie kwaad omdat julle verneder is deur die nasies rondom julle. Daarom, sê die oppermagtige HERE, lê Ek ’n plegtige eed af dat hierdie nasies verneder sal word. Maar die berge van Israel sal groot vrugte-oeste dra om gereed te maak vir my mense wat terugkeer. Hulle kom gou weer huis toe! Kyk, Ek gee vir julle om. Ek kom julle help. Julle grond sal omgeploeg en besaai word. Ek vermeerder die bevolking van Israel, en die stede sal weer bewoon en die puinhope herbou word. En nie net julle mense nie, maar ook julle kuddes sal toeneem en baie word. Ek sal mense bring om weer daar te woon. Ek maak julle selfs nog meer voorspoedig as vroeër. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is. Ek sal sorg dat mense, my volk Israel, weer op julle loop, en julle sal hulle erfporsie wees. Julle sal hulle nooit weer kinderloos maak nie. “So sê die oppermagtige HERE: Die ander nasies spot met julle, berge van Israel. Hulle sê: ‘Israel is ’n land wat sy mense opvreet!’ Maar julle sal nooit weer julle volk en hulle kinders opvreet nie, sê die oppermagtige HERE. Ek sal nie toelaat dat vreemde nasies met julle spot of julle verneder of julle pootjie nie, sê die oppermagtige HERE.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid