DANIËL 8:15-27

DANIËL 8:15-27 AFR53

En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan, en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos 'n man gelyk het. En ek het 'n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël, laat hierdie een die gesig verstaan! Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd van die einde. En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde. Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het — vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie. Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal 'n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan. En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges. En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word. En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jý, hou die gesig geheim, want dit sien op 'n verre toekoms. En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand het dit gemerk nie.