Daniël 8:15-27

Daniël 8:15-27 AFR20

Terwyl ek, Daniël, die visioen sien, en dit probeer verstaan, staan daar skielik voor my iemand wat soos 'n man lyk. Ek hoor toe die stem van 'n mens oor die Ulai wat roep en sê: “Gabriël, laat hierdie een die verskyning verstaan.” Hy het nader gekom na die plek waar ek staan. Toe hy nader kom, is ek deur vrees oorweldig, en het met my gesig teen die grond neergeval. Hy sê toe vir my: “Jy moet verstaan, mensekind, dat die visioen geld vir die tyd van die einde.” Terwyl hy met my praat, was ek in 'n beswyming, met my gesig teen die grond, maar hy het my aangeraak, my weer op my plek laat staan, en gesê: “Kyk, ek gaan aan jou bekend maak wat sal gebeur aan die einde van die vervloeking, want dit verwys na die vasgestelde tyd aan die einde. Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van Medië en Persië. En die harige bokram is die koning van Jawan. Die groot horing tussen sy oë, dit is die eerste koning. Die een wat gebreek is, in die plek waarvan vier opgestaan het, beteken: Vier koninkryke sal uit die nasie opstaan, maar nie met dieselfde krag nie. “Aan die einde van hulle heerskappy, as die oortreders volle geleentheid gehad het, sal 'n koning met 'n ongenaakbare gesig opstaan, een bedrewe in knoeiery. Hy sal groot mag hê, maar nie deur eie krag nie. Hy sal ongehoorde verwoesting aanrig, en voorspoedig wees in wat hy doen. Hy sal sterkes en die volk van die heiliges vernietig. Deur sy vernuf sal hy slaag met die bedrog wat hy aanrig. In sy hart is hy vol eiewaan, en onverhoeds sal hy baie mense vernietig. Selfs teen die Vors van vorste sal hy opstaan, maar sonder mensehand sal hy vernietig word. “Die openbaring in verband met die aand en die oggend waaroor daar gepraat is, dit is waar. En jy, hou die visioen geheim, want daar moet nog baie dae verloop.” Ek, Daniël, was uitgeput en dae lank ongesteld. Toe het ek opgestaan en die koning se werk gedoen. Ek was verslae oor die openbaring, en kon dit nie begryp nie.