Intussen het koning Joram teruggegaan om hom in Jísreël te laat genees van die wonde wat die Arameërs hom toegebring het in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram. En Jehu het gesê: As julle dit goedvind, laat geen vlugteling uit die stad uitgaan om dit in Jísreël te gaan vertel nie.
Toe klim Jehu op die strydwa en trek na Jísreël, want Joram het daar gelê; en Ahásia, die koning van Juda, het afgekom om Joram te besoek.
En terwyl die wag op die toring in Jísreël staan, sien hy die skare van Jehu, terwyl hy aankom, en sê: Ek sien 'n skare. Toe sê Joram: Neem 'n ruiter en stuur hulle tegemoet, en laat hom vra: Is dit vrede?
En die perderuiter het hom tegemoetgegaan en gesê: So vra die koning: Is dit vrede? Maar Jehu antwoord: Wat het jy met die vrede te doen? Volg my! En die wag het dit te kenne gegee en gesê: Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.
Daarop stuur hy 'n ander perderuiter; en toe dié by hulle kom, sê hy: So vra die koning: Is dit vrede? Maar Jehu antwoord: Wat het jy met die vrede te doen? Volg my!
En die wag het dit te kenne gegee en gesê: Hy het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Maar die drywe is soos die drywe van Jehu, die seun van Nimsi, want hy dryf soos 'n kranksinnige.
Toe sê Joram: Span in. En hulle het sy wa ingespan; en Joram, die koning van Israel, het uitgetrek, en Ahásia, die koning van Juda, elkeen op sy wa — hulle het uitgetrek Jehu tegemoet en hom aangetref op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet.
En net toe Joram Jehu sien, sê hy: Is dit vrede, Jehu? Maar hy antwoord: Wat? Vrede, solank as die hoererye van jou moeder Isébel en haar towerye so baie is?
Toe ruk Joram om en vlug en sê vir Ahásia: Verraad, Ahásia!
Maar Jehu het die boog gespan en Joram tussen sy arms geskiet, sodat die pyl deur sy hart uitgegaan en hy in sy wa inmekaargesak het.
Daarop sê hy aan sy adjudant Bidkar: Tel op, gooi hom op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet; want onthou hoe ek en jy saam langs mekaar agter sy vader Agab gery het en die HERE oor hom hierdie uitspraak gegee het:
Voorwaar, Ek het die bloed van Nabot en die bloed van sy seuns verlede nag gesien, spreek die HERE, en Ek sal dit aan jou vergelde op hierdie stuk grond, spreek die HERE. Tel dan nou op, gooi hom op die stuk grond volgens die woord van die HERE.
Toe Ahásia, die koning van Juda, dit sien, het hy gevlug in die rigting van die tuinhuis; maar Jehu het hom agternagejaag en gesê: Skiet hom ook! En hulle het hom geskiet in die wa, op die hoogte na Gur by Jíbleam. Maar hy het na Megíddo gevlug en daar gesterwe.
En sy dienaars het hom na Jerusalem vervoer en hom in sy graf by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.
En in die elfde jaar van Joram, die seun van Agab, het Ahásia koning oor Juda geword.
En Jehu het in Jísreël gekom. Toe Isébel dit hoor, het sy haar oë swart geverf en haar hoof versier en deur die venster uitgekyk.
Terwyl Jehu deur die poort inkom, sê sy: Gaan dit goed, Simri, moordenaar van jou heer?
En hy het opgekyk na die venster en gevra: Wie is vir my, wie? Toe kyk twee, drie hofdienaars uit na hom;
en hy sê: Gooi haar af! En hulle het haar afgegooi, sodat van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat het, en hy het haar vertrap.
En nadat hy ingegaan en geëet en gedrink het, sê hy: Kyk tog om na dié vervloekte en begrawe haar, want sy is 'n koningsdogter.
Maar toe hulle gaan om haar te begrawe, kry hulle van haar niks nie as net die hoofskedel en die voete en die handpalms.
Daarop kom hulle terug en gee hom dit te kenne; en hy sê: Dit is die woord van die HERE wat Hy deur die diens van sy kneg Elía, die Tisbiet, gespreek het, naamlik: Op die dorpsgrond van Jísreël sal die honde die vlees van Isébel eet.
En die lyk van Isébel sal soos mis op die land wees op die dorpsgrond van Jísreël, sodat hulle nie sal kan sê: Dit is Isébel nie.