Koning Joram het egter teruggekeer om in Jisreël te herstel van die wonde wat die Arameërs hom toegedien het in sy geveg met Gasael, koning van Aram. Toe sê Jehu: “As dit julle goedkeuring wegdra, laat niemand uit die stad wegkom om dit in Jisreël te gaan bekend maak nie.” Jehu klim toe op sy wa en gaan na Jisreël, want Joram het daar siek gelê, en Ahasia, koning van Juda, het afgegaan om Joram te besoek.
Die wag wat op die uitkyktoring in Jisreël gestaan het, het Jehu se troepemag sien aankom. Hy sê toe: “Ek sien troepe!” Daarop sê Joram: “Kry 'n ruiter en stuur hom om hulle tegemoet te gaan en te vra, ‘Is alles reg?’ ” Die perderuiter het hom tegemoetgegaan en gesê: “So sê die koning, ‘Is alles reg?’ ” Jehu het geantwoord: “Wat het dit met jou te doen of alles reg is? Val agter my in!” Die wag doen toe verslag: “Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy keer nie terug nie!” Joram stuur toe 'n tweede perderuiter, en toe hy by hulle kom, sê hy: “So sê die koning, ‘Is alles reg?’ ” Jehu het geantwoord: “Wat het dit met jou te doen of alles reg is? Val agter my in!” Die wag doen toe weer verslag: “Hy het tot by hulle gekom, maar hy keer nie terug nie. En die manier van ry, is soos dié van Jehu, seun van Nimsi, want hy jaag soos 'n besetene!” Toe sê Joram: “Span in!” Hy het sy strydwa ingespan, en Joram, koning van Israel, het saam met Ahasia, koning van Juda, uitgegaan, elkeen op sy strydwa. Hulle het uitgegaan om Jehu te ontmoet, en hulle het hom aangetref by die stuk grond van Nabot, die man uit Jisreël.
Toe Joram vir Jehu sien, sê hy: “Is alles reg, Jehu?” Maar Jehu antwoord: “Hoe kan alles reg wees solank die hoerery van Isebel, jou ma, en haar eindelose heksery voortduur? ”
Toe ruk Joram sy wa om en vlug. Hy skree vir Ahasia: “Verraad, Ahasia!” Maar Jehu span sy boog en tref Joram tussen sy blaaie. Die pyl het sy hart deurboor en hy het op sy strydwa inmekaargesak. Jehu sê toe vir Bidkar, sy adjudant: “Tel hom op en gooi hom op die stuk grond van Nabot, die man uit Jisreël, want onthou, ek en jy het langs mekaar agter sy pa Agab gery toe die HERE die volgende profesie oor hom aangekondig het, ‘Gewis het Ek gisteraand die bloed van Nabot en die bloed van sy seuns raakgesien, is die uitspraak van die HERE, en Ek sal dit op hierdie stuk grond aan jou vergeld, is die uitspraak van die HERE.’ Tel hom dan nou op en gooi hom op die stuk grond, ooreenkomstig die woord van die HERE.”
Toe Ahasia, koning van Juda, dit sien, het hy gevlug met die pad na Bet-Gan. Maar Jehu het hom agtervolg en gesê: “Skiet hom ook!” Hulle het hom geskiet in sy strydwa teen die opdraande van Gur wat by Jibleam is. Hy het na Megiddo gevlug, maar het daar gesterf. Sy dienaars het hom na Jerusalem vervoer en hom in sy graf by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Dit was in die elfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, dat Ahasia koning geword het oor Juda.
Jehu het in Jisreël aangekom. Toe Isebel dit hoor, het sy haar oë grimeer, haar hare netjies gemaak en deur die venster afgekyk. Terwyl Jehu by die stadspoort inkom, sê sy: “Is alles reg, Simri, moordenaar van sy heer? ” Jehu het opgekyk na die venster en gesê: “Wie is aan my kant, wie?” Twee of drie van die eunugs het na hom afgekyk. Hy sê toe: “Gooi haar af!” Hulle het haar afgegooi, en van haar bloed het teen die muur en teen die perde gespat, en dié het haar vertrap.
Hy het binnetoe gegaan en geëet en gedrink. Toe sê hy: “Gee tog aandag aan hierdie vervloekte vrou en begrawe haar; sy was immers die dogter van 'n koning. ” Hulle het gegaan om haar te begrawe, maar hulle het van haar niks gekry nie, behalwe die kopbeen, die voete en die hande. Hulle het teruggekeer en dit vir Jehu vertel. Toe sê hy: “Dit is die vervulling van die woord van die HERE wat Hy by monde van sy dienskneg, Elia, die man uit Tisbe, gespreek het, ‘Op die stuk grond in Jisreël sal honde die liggaam van Isebel verslind,’ en Isebel se lyk sal op die stuk grond in Jisreël wees soos uitwerpsel in die veld. Hulle sal nie kan sê, ‘Dit was Isebel’ nie.”