I SAMUEL 9:15-21

I SAMUEL 9:15-21 AFR53

Want die HERE het dit een dag voor die koms van Saul aan Samuel geopenbaar en gesê: Môre sulke tyd sal Ek 'n man uit die land Benjamin na jou stuur wat jy moet salf as 'n vors oor my volk Israel; en hy sal my volk verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk aangesien, omdat sy geroep na My gekom het. Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers. En Saul het nader gekom na Samuel binne-in die poort en gevra: Wys my tog waar die huis van die siener is? Daarop het Samuel Saul geantwoord en gesê: Ek is die siener! Gaan voor my uit op na die hoogte, dan kan julle vandag saam met my eet; en ek sal jou môre vroeg laat gaan; en alles wat in jou hart is, sal ek jou te kenne gee. En wat die esels betref wat jy vandag al drie dae gelede vermis het — bekommer jou daar nie oor nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al wat begeerlik is in Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie? En Saul antwoord en sê: Is ek nie 'n Benjaminiet, uit een van die kleinste van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my?