I SAMUEL 19:18-24

I SAMUEL 19:18-24 AFR53

Intussen het Dawid gevlug en vrygeraak en by Samuel in Rama gekom en hom meegedeel alles wat Saul hom aangedoen het. Toe het hy saam met Samuel weggegaan, en hulle het in Najot gebly. En aan Saul is meegedeel en gesê: Kyk, Dawid is in Najot by Rama. Daarop stuur Saul boodskappers om Dawid te gaan haal. Maar toe hulle die skare profete sien profeteer, met Samuel as leier aan hulle hoof, het die Gees van God oor die boodskappers van Saul gekom, sodat hulle ook geprofeteer het. Toe hulle dit aan Saul meedeel, het hy ander boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer; en Saul het die derde keer weer boodskappers gestuur, maar hulle het ook geprofeteer. En hy het self ook na Rama gegaan en by die groot put gekom wat by Segu is, en gevra en gesê: Waar is Samuel en Dawid? En hulle antwoord: Daar in Najot by Rama. Hierop gaan hy daarheen, na Najot by Rama; en die Gees van God het ook oor hom gekom, sodat hy aldeur geloop en profeteer het totdat hy in Najot by Rama aangekom het. Hy het ook self sy klere uitgetrek en ook voor Samuel geprofeteer en ontbloot neergeval daardie hele dag en die hele nag. Daarom sê hulle: Is Saul ook onder die profete?