Romeine 8:5-15

Romeine 8:5-15 CAB23

Want die wat na die vlees is, bedink die dinge van die vlees; maar hulle wat na die Gees is, die dinge van die Gees. Want om vleeslik gesind te wees, is die dood; maar om geestelik ingestel te wees is lewe en vrede. Want die vleeslike gesindheid is vyandskap teen God, want dit is nie onderworpe aan die wet van God nie, en kan ook nie. Dan kan die wat in die vlees is, God nie behaag nie. Maar julle is nie in die vlees nie, maar in die Gees, as die Gees van God in julle woon. En as iemand nie die Gees van Christus het nie, is hy nie een van syne nie. En as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde; maar die Gees is lewe vanweë die geregtigheid. Maar as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees nie, om na die vlees te lewe. Want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe; maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie; maar julle het die Gees van aanneming tot kinders ontvang, waardeur ons roep: Abba, Vader!