ROMEINE 8:5-15

ROMEINE 8:5-15 Bybel vir almal (ABA)

Die mense wat die dinge doen wat hulle wil doen, dink altyd oor wat húlle wil doen, en wat hulle wil doen, is slegte dinge. Maar die mense wat na die Heilige Gees luister, dink altyd aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. Daar is mense wat altyd dink oor die dinge wat húlle graag wil doen, slegte dinge. God sal hulle vir altyd laat sterf. Maar daar is mense wat altyd dink aan die dinge wat die Heilige Gees wil hê hulle moet doen. God sal hulle vir altyd laat lewe en Hy sal vir hulle vrede gee. Mense wat altyd dink aan die dinge wat húlle graag wil doen, is God se vyande. Hulle luister nie na God se wette nie, hulle kan nie. Die mense wat altyd doen wat húlle graag wil doen, kan nie doen wat God wil hê nie. Maar julle doen nie wat julle self wil doen nie, want die Heilige Gees is in julle harte en julle luister na die Heilige Gees, die Gees van God. Mense wat nie die Heilige Gees, die Gees van Christus, in hulle harte het nie, behoort nie aan Christus nie. Julle liggame sal sterf omdat die sonde in die wêreld gekom het. Maar nou is Christus in julle, God het julle vrygespreek en die Heilige Gees laat julle waarlik lewe. Jesus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe, en God se Gees woon nou in julle harte. Daarom, Christus het gesterf, maar God het Hom weer laat lewe en God sal eendag ook vir julle weer laat lewe, julle wie se liggame nog sal sterf, maar wat God se Gees in julle harte het. Vriende, ons moet reg lewe. Ons moenie die dinge doen wat mense self graag doen nie, dit is slegte dinge. As julle lewe soos julle self graag wil lewe, dan sal God julle vir altyd laat sterf. Maar as julle na die Heilige Gees luister en julle doen nie wat julle liggame wil hê nie, dan sal God julle vir altyd laat lewe. Want as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan is hulle kinders van God. God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.”

ROMEINE 8:5-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

ROMEINE 8:5-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie. Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broers, het ons 'n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. Julle het immers nie 'n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “ Abba , Vader!”

ROMEINE 8:5-15 Die Boodskap (DB)

Mense wat toelaat dat die sonde oor hulle lewens baasspeel, se koppe is heeltyd besig met sonde. Maar mense wat toelaat dat die Gees hulle lewens beheer, se koppe is heeltyd besig met dinge wat vir die Gees belangrik is. Mense wie se denke en dade in die greep van die sonde vasgevang is, leef in die dood. Maar mense wie se denke en dade in die greep van die Heilige Gees vasgevang is, ken ware lewe en vrede. Mense wat heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God. Hulle steur hulle nie aan wat Hy in die wet sê nie. Trouens, hulle verroer nie eens ’n vinger om dit te probeer gehoorsaam nie. Omdat die sonde oor hulle heers, kan hulle glad nie doen wat God vra nie. Julle is egter nie meer in die greep van die sonde nie. Nee, julle lewens staan nou onder die beheer van die Gees wat in julle bly. As die Gees van Christus nie in iemand se lewe aanwesig is nie, behoort hy glad nie aan Hom nie - so eenvoudig is dit. Christus is ook nou by julle. Daarom sal die Heilige Gees sorg dat julle vir altyd lewe. Selfs al moet julle liggame doodgaan - dit is immers die prys wat ons almal vir die sonde moet betaal - sal die Gees julle op ’n splinternuwe manier laat leef. Hy sal dit doen omdat julle deur God vrygespreek is. Julle weet baie goed dat God Jesus uit die dood laat opstaan het. Daarom is dit vanselfsprekend dat Hy wat nou deur sy Gees in julle bly, eendag ook elkeen van julle se sterflike liggaam met die hulp van sy Gees lewend sal maak. My broers en susters, omdat die Heilige Gees in ons bly, mag ons nie langer in die sonde rondlê nie. Ons is dit aan Hom verskuldig. As julle kies om aan te hou sondig, moet julle weet dat julle sonder God sal sterf. Maar as julle toelaat dat die Heilige Gees met julle sondige dade afreken, sal julle vir altyd saam met God lewe. Almal wat hulle deur die Heilige Gees laat lei, is kinders van God. As julle hierdie keuse maak, is julle nie langer slawe van dinge soos angs en vrees nie. Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het. Verder is dit ook Hy wat nou ’n diep verlange na God in julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!” Hy sorg dat daar ’n onbreekbare band tussen God en julle is.

ROMEINE 8:5-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede. Want die sondige natuur is altyd vyandig ingestel teenoor God. Dit rebelleer teen God se wet, want dit is in sy aard. Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie. Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. Onthou, iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is nie een van sy mense nie! As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees leef omdat julle saak met God reggemaak is. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon. Daarom dan, my broers en susters, is dit noodsaaklik dat ons die druk van ons sondige natuur sal weerstaan en nie daarvolgens sal lewe nie. Want as die sondige natuur julle lewe beheer, gaan julle die dood tegemoet. Maar as julle deur die Gees die werke van julle sondige natuur doodmaak, sal julle werklik lewe. Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders. Die gees wat julle ontvang het, is nie ’n gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader.

ROMEINE 8:5-15

ROMEINE 8:5-15 AFR83ROMEINE 8:5-15 AFR83ROMEINE 8:5-15 AFR83