En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Vir hulle moet die land as 'n erfdeel verdeel word volgens die getal name. Aan baie moet jy die meer erfdeel gee, en aan die min sal jy die mindere erfdeel gee; aan elkeen moet sy erfdeel gegee word volgens die wat deur hom getel is. Maar die land moet deur die lot verdeel word: volgens die name van die stamme van hulle vaders moet hulle erwe. Volgens die lot moet die besitting daarvan tussen baie en min verdeel word. En dit is die geteldes van die Leviete volgens hulle geslagte: van Gerson die geslag van die Gersoniete; van Kehat die geslag van die Kehatiete; van Merari die geslag van die Merariete. Dit is die geslagte van die Leviete: die geslag van die Libniete, die geslag van die Hebroniete, die geslag van die Magliete, die geslag van die Musiete, die geslag van die Koratiete. En Kehat was die vader van Amram. En die naam van Amram se vrou was Jogebed, die dogter van Levi, wat haar moeder vir Levi in Egipte gebaar het; en sy het vir Amram gebaar Aäron en Moses en Mirjam, hulle suster. En vir Aäron is Nadab en Abíhu, Eleasar en Itamar gebore. En Nadab en Abíhu het gesterwe toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van die HERE geoffer het. En hulle geteldes was drie en twintig duisend, almal manlik van 'n maand oud en daarbo; want hulle is nie getel onder die kinders van Israel nie, omdat daar geen erfdeel aan hulle gegee is onder die kinders van Israel nie. Dit is hulle wat deur Moses en die priester Eleasar getel is, wat die kinders van Israel in die vlaktes van Moab by die Jordaan by Jerigo getel het. Maar onder hulle was daar nie een van hulle wat Moses en die priester Aäron getel het toe hulle die kinders van Israel in die woestyn Sinai getel het nie. Want die HERE het van hulle gesê: Hulle sal gewis in die woestyn sterwe. En daar het geen man van hulle oorgebly nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefunne, en Josua, die seun van Nun.
Lees Numeri 26
Deel
Vergelyk alle weergawes: Numeri 26:52-65
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's