Markus 1:1-15

Markus 1:1-15 CAB23

Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God; Soos geskrywe is in die profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat U weg voor U uit sal berei. Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie gelyk. Johannes het wel in die woestyn gedoop en die doop van bekering tot vergewing van sondes verkondig. En die hele land Judéa en hulle van Jerusalem het na hom uitgegaan, en hulle is almal deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hul sondes bely. En Johannes was bekleed met kameelhare en met 'n velgordel om sy heupe; en hy het sprinkane en wilde heuning geëet; En hy het gepreek en gesê: Daar kom een sterker as ek ná my, wie se skoene ek nie waardig is om af te buk en los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop. En dit het gebeur in daardie dae dat Jesus van Násaret in Galilea gekom het en deur Johannes in die Jordaan gedoop is. En dadelik uit die water opgekom, sien Hy die hemele geopen en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. En daar het 'n stem uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En dadelik dryf die Gees hom die woestyn in. En hy was daar in die woestyn veertig dae lank, deur Satan versoek; en was saam met die wilde diere; en die engele het Hom gedien. En nadat Johannes in die tronk gesit is, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid