MARKUS 1:1-15

MARKUS 1:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God. In die boek van die profeet Jesaja staan geskryf: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed. Maak vir Hom ’n hoofweg.’” Hierdie boodskapper was Johannes die Doper. Hy het in die woestyn opgetree en gepreek dat die mense hulle moes laat doop as teken dat hulle tot inkeer gekom het en so vergifnis van sonde ontvang het. Skares mense van Jerusalem en van oor die hele Judea het na Johannes toe gekom, en nadat hulle hulle sondes bely het, het hy hulle in die Jordaanrivier gedoop. Johannes se klere was van kameelhaar en hy het ’n leerbelt om sy middel gedra. Hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Hy het aangekondig: “Daar kom Iemand ná my wat belangriker is as ek – soveel belangriker dat ek nie eers werd is om soos ’n slaaf te buk en sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” Ongeveer daardie tyd het Jesus van Nasaret in Galilea af gekom en is Hy deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Dadelik toe Jesus uit die water opstaan, sien Hy hoe die hemel oopgaan en die Heilige Gees soos ’n duif na Hom toe afkom. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.” Dadelik hierna het die Heilige Gees Jesus na die woestyn laat gaan. Hy was daar vir 40 dae terwyl Hy deur Satan versoek is. Hy was daar saam met die wilde diere, en engele het Hom versorg. Later, nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea toe gegaan om God se Goeie Nuus aan te kondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek. God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin! Kom tot inkeer en glo die Goeie Nuus!”

MARKUS 1:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Die goeie boodskap oor Jesus Christus, die Seun van God, begin soos dit in die boek van die profeet Jesaja geskryf is: “ Ek, die Here, stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en die pad vir jou gereedmaak. Iemand skree in die woestyn en hy sê: Julle moet die pad gereedmaak vir die Here, julle moet sy paaie reguit maak.” Dit is wat Johannes die Doper in die woestyn gepreek het. Hy het gesê die mense moet verander en lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. Dit sal beteken dat God hulle sondes vergewe het. Al die mense van Judea en Jerusalem het na Johannes toe gegaan. Hulle het gesê hulle is jammer oor hulle sonde, en Johannes het hulle gedoop in die Jordaan-rivier. Johannes se klere was van kameelhare gemaak en hy het 'n belt van leer om sy heupe gedra. Hy het sprinkane geëet en ook heuning wat hy in die woestyn gekry het. Johannes het gepreek en gesê: “Later sal Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.” In dieselfde tyd het Jesus van die stad Nasaret gekom. Nasaret is in die provinsie Galilea. Johannes het vir Jesus in die Jordaan-rivier gedoop. En dadelik toe Jesus uit die water opstaan, het Hy gesien die hemel skeur oop en die Heilige Gees kom af na Hom toe soos 'n duif uit die lug afkom. Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek is lief vir Jou. Jy maak My bly.” Dadelik daarna het die Heilige Gees vir Jesus weggestuur in die woestyn in. Jesus het 40 dae lank in die woestyn gebly, en die Satan het probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het vir Hom gesorg. Koning Herodes het vir Johannes laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Daarna het Jesus na Galilea gekom en Hy het vir die mense God se goeie boodskap gebring. Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.”

MARKUS 1:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God. Soos geskrywe is in die Profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak — die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit! Johannes het gekom en was besig om in die woestyn te doop en die doop van bekering tot vergifnis van sondes te verkondig. En die hele Joodse land en die inwoners van Jerusalem het uitgegaan na hom toe, en almal is deur hom gedoop in die Jordaanrivier met belydenis van hulle sondes. En Johannes was gekleed met kameelhare en 'n leergord om sy heupe, en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. En hy het gepreek en gesê: Hy wat sterker is as ek, kom ná my, en ek is nie waardig om neer te buk en sy skoenriem los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees. EN in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. En daar het 'n stem uit die hemele gekom: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn. En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien. EN nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.

MARKUS 1:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só: In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe: “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit. Hy sal die pad vir jou regmaak. Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. ” Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop. Johannes het klere van kameelhaar gedra met 'n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos 'n duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg. Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

MARKUS 1:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die •Seun van God. Soos daar in die profeet Jesaja geskryf staan, “Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad gereedmaak. 'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad van die Here gereed, maak sy paaie reguit!’ ” – so het Johannes gekom. Hy het in die woestyn gedoop en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig. Die hele landstreek van Judea en almal in Jerusalem het na hom gegaan, en hulle is deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hulle sondes bely het. Johannes het 'n kleed van kameelhaar gedra, met 'n leergordel om sy heupe , en hy het sprinkane en wilde heuning geëet. Hy het gepreek en gesê: “Ná my kom Hy wat sterker as ek is. Ek is nie eers werd om te buk en die riempies van sy sandale los te maak nie. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.” In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos 'n duif op Hom sien neerdaal. En 'n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!” Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg. Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

MARKUS 1:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die begin van die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God; Soos geskrywe is in die profete: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat U weg voor U uit sal berei. Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie gelyk. Johannes het wel in die woestyn gedoop en die doop van bekering tot vergewing van sondes verkondig. En die hele land Judéa en hulle van Jerusalem het na hom uitgegaan, en hulle is almal deur hom in die Jordaanrivier gedoop, terwyl hulle hul sondes bely. En Johannes was bekleed met kameelhare en met 'n velgordel om sy heupe; en hy het sprinkane en wilde heuning geëet; En hy het gepreek en gesê: Daar kom een sterker as ek ná my, wie se skoene ek nie waardig is om af te buk en los te maak nie. Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop. En dit het gebeur in daardie dae dat Jesus van Násaret in Galilea gekom het en deur Johannes in die Jordaan gedoop is. En dadelik uit die water opgekom, sien Hy die hemele geopen en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal. En daar het 'n stem uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. En dadelik dryf die Gees hom die woestyn in. En hy was daar in die woestyn veertig dae lank, deur Satan versoek; en was saam met die wilde diere; en die engele het Hom gedien. En nadat Johannes in die tronk gesit is, het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.

MARKUS 1:1-15 Die Boodskap (DB)

Die goeie nuus oor Jesus begin met Johannes wat mense gedoop het. Daaroor het God se boodskapper Jesaja jare gelede al geskryf: “Ek stuur my boodskapper voor jou uit om alles reg te maak vir jou koms, sê God. In die wildernis skree iemand hard uit: Maak seker dat die pad reg is waarop die Here moet loop. Dit moet mooi gelyk wees.” Daar in die droë, verlate deel suid van Jerusalem het Johannes mense begin doop. In sy preke het hy mense mooi gevra om terug te draai na God toe. Om te wys hoe ernstig hulle daaroor voel, moes hulle hulle laat doop. Dan sou God nie meer kwaad wees oor hulle sondes nie, maar dit vergewe. Die mense het van alle kante af na hom toe gestroom, of hulle nou op die platteland gebly het of in die groot stad Jerusalem. Hierdie mense was spyt oor hulle sondes en het dit erken. Daarom is hulle deur Johannes in die Jordaanrivier gedoop. Johannes se klere was gemaak uit materiaal van kameelhare wat hy met ’n breë leerbelt om sy middel vasgemaak het. Hy het aan die lewe gebly van sprinkane en heuning wat hy in die veld kon kry. Johannes se boodskap was glashelder: “Moenie in my vaskyk asof ek iets is nie. Die Een wat regtig iets is, is op pad. As ek by Hom is, is ek niks. In vergelyking met Hom is ek so onbelangrik dat ek nie eens werd is om die kleinste ou dingetjie vir Hom te doen nie. Ek gebruik gewone water om julle mee te doop, maar Hy sal die Heilige Gees gebruik.” Op ’n dag kom Jesus ook daar aan. Hy het die hele pad van die noorde af gekom, van Nasaret in die provinsie Galilea. Daar gekom, het Johannes Hom in die Jordaan gedoop. Toe Jesus na sy doop uit die water kom, was dit of die hemel oopskeur. Iets wat soos ’n duif gelyk het, het van bo af op Hom neergesak. Dit was die Heilige Gees. Net toe weerklink ’n stem uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek het Jou lief en Jy maak My bly.” Die stem was nog nie behoorlik weg nie of die Heilige Gees vat Jesus die woestyn in. Daar het Hy 40 dae gebly. Satan het Hom nie met rus gelaat nie. Satan wou kyk of hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie. Jesus was nie alleen nie. Die wilde diere van die veld was by Hom en die engele het gesorg dat Hy alles het wat nodig was. ’n Rukkie daarna is Johannes in die tronk gestop. Jesus is toe terug Galilea toe en het vir mense begin vertel watter goeie nuus God vir hulle het. “Die tyd is nou ryp,” het Hy gesê. “Die nuwe wêreld van God is aan die kom. Almal sal God as die groot Heerser moet erken. Ruk julle reg en draai terug na God toe. Luister na die goeie nuus en maak dit julle eie.”

MARKUS 1:1-15

MARKUS 1:1-15 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid