Josua 8:1-10

Josua 8:1-10 CAB23

En die HERE het vir Josua gesê: Wees nie bevrees nie en wees nie verskrik nie; neem die hele krygsvolk saam met jou en maak klaar, trek op na Ai; kyk, Ek gee die koning van Ai en sy volk in jou hand en sy stad en sy land: En jy moet met Ai en haar koning doen soos jy met Jérigo en sy koning gedoen het: net sy buit en sy vee moet julle vir julleself buit; lê vir julle 'n hinderlaag vir die stad daaragter. Toe het Josua en al die krygsmanne klaargemaak om teen Ai op te trek; en Josua het dertigduisend dapper helde uitgekies en hulle in die nag weggestuur. En hy het hulle bevel gegee en gesê: Kyk, julle lê en loer teen die stad, ja, agter die stad; gaan nie baie ver van die stad af nie, maar wees almal gereed. En ek en al die mense wat by my is, sal na die stad nader, en as hulle teen ons uittrek, soos die eerste keer, sal ons voor hulle uit vlug, (want hulle sal agter ons uittrek) totdat ons hulle uit die stad getrek het; want hulle sal sê: Hulle vlug voor ons uit soos in die begin; daarom sal ons voor hulle uit vlug. Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem, want die HERE julle God sal dit in julle hand gee. En as julle die stad ingeneem het, moet julle die stad aan die brand steek; volgens die bevel van die HERE moet julle handel. Kyk, Ek het jou beveel. Josua het hulle dan uitgestuur, en hulle het in 'n hinderlaag gegaan en tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai, gebly; maar Josua het daardie nag onder die volk vernag. En Josua het die môre vroeg klaargemaak en die volk getel en opgetrek, hy en die oudstes van Israel, voor die volk uit na Ai.