Josua 8:1-10

Josua 8:1-10 AFR20

Die HERE het vir Josua gesê: “Moenie bang wees nie en moet jou nie laat afskrik nie. Neem al die weerbare manskappe saam met jou; maak gereed en trek op na Ai. Kyk, Ek gee die koning van Ai en sy mense, sy stad en sy gebied, in jou hand. Jy moet met Ai en sy koning maak soos jy met Jerigo en sy koning gemaak het. Net die buit en die vee mag julle vir julleself hou. Stel 'n hinderlaag op vir die stad aan die agterkant.” Josua en al die weerbare manskappe het toe gereedgemaak om teen Ai op te trek. Josua het dertig afdelings manne, dapper krygers, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur. Hy het hulle beveel: “Kyk, julle moet vir die stad 'n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad. Julle moet dit nie te ver van die stad af doen nie, en julle moet almal slaggereed wees. Ek en al die manskappe wat by my is, sal die stad nader, en wanneer hulle uitkom om soos die vorige keer teen ons te staan te kom, sal ons voor hulle uit vlug. Hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad af weggelok het, want hulle sal dink, hulle vlug voor ons uit, soos die vorige keer. Terwyl ons dan voor hulle uit vlug, moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad beset. Die HERE julle God gee dit in julle hand. Wanneer die stad onder julle beheer is, moet julle dit aan die brand steek. Ooreenkomstig die woord van die HERE moet julle optree. Kyk, dit is my opdragte aan julle.” Josua het hulle weggestuur en hulle het na die plek vir die hinderlaag gegaan. Hulle het stelling ingeneem tussen Bet-El en Ai, aan die westekant van Ai. Josua het daardie nag tussen die manskappe deurgebring. Josua het vroeg die môre opgestaan en die manskappe gemonster. Hy het opgetrek na Ai, hy en die oudstes van Israel aan die voorpunt van die manskappe.