Maar al het Hy soveel wonders voor hulle gedoen, tog het hulle nie in Hom geglo nie. Sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gespreek het: Here, wie het ons gerug geglo? en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja weer gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard; dat hulle nie met hul oë sou sien en nie met hul hart sou verstaan nie, en hulle sou bekeer, en Ek hulle sou genees. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid sien en van Hom gespreek het. Maar onder die owerstes het ook baie in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle Hom nie bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie. Want hulle het die lof van mense meer liefgehad as die lof van God. Jesus het uitgeroep en gesê: Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het. En hy wat My sien, sien Hom wat My gestuur het. Ek het 'n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sal bly nie. En as iemand na my woorde luister en nie glo nie, Ek oordeel hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red. Hy wat My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel op die laaste dag. Want ek het nie uit myself gepraat nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My 'n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is; alles wat Ek dan ook al spreek, net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.
Lees Johannes 12
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Johannes 12:37-50
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's