Genesis 2:15-25

Genesis 2:15-25 CAB23

Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden gesit om dit te bewerk en te bewaak. Die HERE God het die mens beveel en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vrylik eet. Maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Die HERE God het gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom 'n hulp maak wat vir hom 'n gelyke sal wees. En die HERE God het uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel gevorm; en hulle na Adam gebring om te sien hoe hy hulle sou noem; en wat Adam ook al elke lewende wese genoem het, dit was die naam daarvan. Adam het name gegee aan al die vee, al die voëls van die hemel en aan al die diere van die veld; maar vir Adam is daar geen hulp gevind wat vir hom geskik was nie. En die HERE God het 'n diepe slaap op die mens laat val, en hy het geslaap; Uit die rib wat die HERE God van die mens geneem het, het Hy 'n vrou gemaak en haar na die man gebring. Toe sê Adam: Dit is nou been van my gebeente en vlees van my vlees: sy sal Vrou genoem word, omdat sy uit die mens geneem is. Daarom sal 'n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle sal een vlees word. Hulle was al twee naak, die man en sy vrou, en het hulle nie geskaam nie.