GENESIS 2:15-25

GENESIS 2:15-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die HERE God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” Die HERE God het ook gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n helper maak, as sy gelyke.” Toe vorm die HERE God uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel, en Hy bring hulle na die mens om te sien wat hy hulle sou noem; en wat ook al die mens 'n lewende wese genoem het, dit was sy naam. So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie 'n helper, as sy gelyke, gevind nie. Die HERE God het toe die mens in 'n diep slaap laat val, en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vleis toegemaak. Die HERE God het toe die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, omgebou tot 'n vrou, en haar na die mens gebring. Toe sê die mens: “Hierdie een is dié keer been uit my eie gebeente, vlees uit my eie vlees. Hierdie een sal vrou genoem word, want uit die man is sy geneem.” Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word. Hulle twee was naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.

GENESIS 2:15-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas. En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie. Toe het die HERE God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

GENESIS 2:15-25 Die Boodskap (DB)

Die Here God het die mens in die tuin gesit sodat hy dit kon bewerk en oppas. Hy het ook vir die mens gesê: “Jy is welkom om van al die bome in die tuin te eet. Daar is egter een boom waarvan jy nooit mag eet nie. Dit is die boom wat kennis gee van goed en kwaad. Die oomblik dat jy daarvan eet, word jou bestemming die dood.” Die Here God het verder gesê: “Dit is nie reg dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan bystaan en hom kan help.” Die Here God het elke soort dier uit die grond gemaak asook al die voëls van die hemel. Hy het hulle na die mens toe gebring sodat hy vir hulle name kon gee. Watter naam hy ook al gegee het, so is daardie dier en voël genoem. Die man het toe name aan al die mak diere, al die voëls en al die wilde diere gegee. Nie een was egter goed genoeg om hom te help nie. Die Here God het die mens toe diep laat slaap. Terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbes gevat en die oop stuk met vleis toegemaak. Uit die rib van die mens het die Here God ’n vrou gevorm. Hy het haar na hom toe gebring. Die mens het oorstelp van vreugde gesê: “Uiteindelik het ek iemand gekry wat net soos ek is en soos ek lyk, iemand met ’n liggaam net soos myne. Ek gaan haar ‘vrou’ noem, want sy is deel van my.” Dit is waarom ’n man tot vandag toe sy ouerhuis verlaat om saam met die vrou van sy liefde te bly. Hulle liefde vir mekaar maak hulle een in liggaam en gees. Hulle twee, die man en die vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.