Sefanja 3:3-8

Sefanja 3:3-8 AFR20

Die •hoë amptenare in die stad is brullende leeus, haar regters is nagwolwe wat niks tot die oggend laat oorbly nie. Haar profete is vermetel, verraderlike mense, haar priesters ontheilig wat heilig is, en doen die wet geweld aan. Die HERE is regverdig in die stad, Hy doen geen onreg nie. Oggend na oggend gee Hy sy beslissings as die lig, dit ontbreek nooit nie; maar die boosdoener ken geen skaamte nie. “Ek het nasies uitgewis, hulle hoektorings staan verlate. Ek het hulle strate in puin gelê – niemand loop daar nie. Hulle stede lê verwoes – sonder mense, sonder inwoners. Ek het gedink, jy sal beslis vir My ontsag hê, jy sal die teregwysing aanvaar. Dan sou haar woonplek nie verwoes word nie – alles wat Ek oor haar bepaal het. Maar nogtans was hulle ywerig om net slegte dade te bly doen. Daarom moet julle My verwag,” is die uitspraak van die HERE, “daardie dag as Ek opstaan vir die buit. Want my beslissing is: om nasies te versamel en koninkryke bymekaar te maak, om my verontwaardiging, al my brandende toorn, oor hulle uit te giet; want deur die vuur van my drif sal die hele aarde verteer word.