Sefanja 2:10-15

Sefanja 2:10-15 AFR20

Dit is wat hulle verwaandheid oor hulle gebring het, hulle het immers die volk van die HERE, Heerser oor alle magte, gespot en op hulle neergesien. Vreesaanjaend sal die HERE vir hulle wees; Hy het immers al die gode van die aarde laat wegkwyn. So sal dan elke bewoner van al die eilande, elkeen vanuit sy woonplek, diep voor Hom neerbuig – “Ook julle, Kussiete, wat deur my swaard deurboor is.” Hy sal sy hand teen die noorde uitstrek en Assirië vernietig; Hy sal Nineve 'n verlate plek maak, dor soos 'n woestyn. Troppe vee, allerhande diere sal daar gaan lê, bontkraaie en uile sal op die pilare oornag en hulle geluide sal deur die vensters weerklink. Puin sal op die drumpel lê, ja, die sederhout sal rondlê. Dít is wat sal word van die uitbundige stad wat so kommervry leef, wat in haar hart sê: Ek is die een, niemand anders nie. Hoe verlate is sy, 'n lêplek vir diere. Elkeen wat daar verbyloop, sal fluit en sy hande saamslaan.