Sefanja 2:10-15

Sefanja 2:10-15 DB

Al hierdie negatiewe dinge sal met Moab en die Ammoniete gebeur omdat hulle so arrogant is en so baie van hulleself dink. Hulle probeer Juda, wat die Here se volk is, belaglik maak. Hulle beledig sy mense. Hierdie mense sal benoud raak as hulle net aan die Here dink, want Hy laat al die gode van die wêreld in die niet verdwyn. Al wat ’n nasie is, in watter land hulle ook al is, sal Hom aanbid. Die Here sal ook die mense van Etiopië doodmaak. Die mense in die noordelike landstreke waar die land Assirië is, sal deeglik besef hoe magtig die Here is. Hy sal hulle hoofstad Nineve soos ’n woestyn maak waar daar nie water is nie en mense nie kan oorleef nie. Die stad sal ’n weiplek vir beeste en skape word en allerhande soorte wilde diere sal dit ’n lêplek maak. Uile sal in stukke van mure wat nog so half bly staan het, sit en hulle kenmerkende geluide maak. Bourommel sal in die deuringange lê en die deurrame van sederhout wat uit die kosyne uitgeruk is, sal daar rondlê. Dit is wat met hierdie stad en sy arrogante mense gaan gebeur. Hulle het gedink hulle is altyd so veilig binne-in die stad. Hulle het altyd gespog dat daar nie nog so ’n stad soos hulle s’n is nie. Maar die stad sal ’n plek word waar mense nie sal kan bly nie. Wilde diere sal dit hulle lêplek maak. As mense daar verbystap, sal hulle stom van verbasing wees. Hulle sal nie glo wat hulle met hulle eie oë sien nie.