Sagaria 4

4
Vyfde visioen
1 Die engel wat met my praat, het teruggekom en my wakker gemaak, soos iemand wat uit sy slaap wakker gemaak word. 2Hy het my gevra: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek het gesien: Kyk, daar was 'n menora van soliede goud. Bo-op was 'n oliebak met sewe lampe, elkeen met sewe tuite. 3 Weerskante was daar ook twee olyfbome, een aan die regterkant van die oliebak en een aan die linkerkant.”
4Toe antwoord ek die engel wat met my praat en sê: “Wat beteken dit, my heer?”
5Die engel wat met my praat, het geantwoord en gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?”
En ek het gesê: “Nee, my heer.”
6Toe het hy geantwoord en vir my gesê: “Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel, ‘Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. 7‘Wie is jy, groot berg? Voor Serubbabel word jy 'n vlakte. Hy sal die sluitsteen naderbring onder uitroepe van, “Genade, genade hiervoor!” ’ ”
8Dít was die woord van die Here aan my: 9“ Die hande van Serubbabel het die fondament van hierdie huis gelê en sy hande sal dit voltooi. Dan sal jy weet dit is die Here, Heerser oor alle magte, wat my na julle gestuur het. 10Want wie het die dag van klein dinge gering geskat? Hulle sal bly wees en sal die skietlood in die hand van Serubbabel sien.”
Hierdie sewe is die oë van die Here wat die hele aarde deurkruis.
11Toe het ek weer gepraat en gevra: “Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regter- en linkerkant van die menora?” 12Ek het 'n tweede keer gepraat en hom gevra: “Wat beteken die twee olyftakke waaruit die goue olie deur die goue pype vloei?”
13Hy het vir my gesê: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” En ek het gesê: “Nee, my heer.”
14Toe sê hy vir my: “Hulle is die twee gesalfdes wat by die Heer van die hele aarde staan.”

Tans Gekies:

Sagaria 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid