Sagaria 3

3
Vierde visioen
1 Toe het Hy die hoëpriester Josua aan my gewys. Hy staan voor die •engel van die Here met Satan wat hom aankla aan sy regterkant. 2 En die Here sê aan Satan: “Die Here straf jou, Satan! Die Here wat Jerusalem verkies het, sal jou straf! Is hierdie man nie 'n stuk brandhout wat uit die vuur geruk is nie?”
3 Josua het in besmeerde klere voor die engel gestaan. 4Hierop het die engel gereageer en aan diegene wat voor hom staan, gesê: “Trek sy besmeerde klere uit.” Vir Josua het hy gesê: “Kyk, ek het jou sondeskuld van jou weggeneem en ek sal vir jou feesklere aantrek.”
5Daarop sê ek: “Laat hulle 'n skoon •tulband om sy kop draai.” Terwyl die engel van die Here daar staan, het hulle die skoon tulband om sy kop gedraai en vir hom die klere aangetrek.
6En die engel van die Here het Josua verseker: 7“ So sê die Here, Heerser oor alle magte: As jy op my paaie loop, en as jy my voorskrifte nakom, dan sal jy my huis regeer en dan sal jy my voorhowe bewaak. Ek sal jou vrye toegang gee tot diegene wat hier staan. 8 Luister tog, Josua, hoëpriester, jy en jou medepriesters wat voor jou sit, manne wat as 'n teken dien; want kyk, Ek gaan my dienaar, die Loot, laat kom. 9 Kyk daarom na die steen wat Ek voor Josua neergesit het, 'n enkele steen met sewe oë. Kyk, Ek sal 'n inskripsie daarop graveer en Ek sal die sondeskuld van hierdie land in een enkele dag wegneem,” is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 10 “Op daardie dag,” is 'n uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte, “sal julle mekaar uitnooi om onder die wingerdstok en die vyeboom te kom sit.”

Tans Gekies:

Sagaria 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid