Sagaria 14:16-21

Sagaria 14:16-21 AFR20

Almal wat oorbly uit al die nasies, wat opgeruk het om teen Jerusalem oorlog te maak, sal jaar ná jaar optrek om voor die Koning, die HERE, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig en om die Huttefees te vier. En oor diegene onder die familiegroepe van die aarde wat nie optrek na Jerusalem om voor die Koning, die HERE, Heerser oor alle magte, in aanbidding neer te buig nie, sal geen reën val nie. As die familiegroep uit Egipte nie optrek en na Jerusalem kom nie, sal daar oor hulle nie reën val nie. Dit sal die plaag wees waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die Huttefees te vier nie. Dit sal die straf wees vir Egipte en die straf vir al die nasies wat nie optrek om die Huttefees te vier nie. Op daardie dag sal op die klokkies van die perde staan “Heilig vir die HERE”, en die kookpotte in die huis van die HERE sal soos die offerbakke voor die altaar wees. Elke kookpot in Jerusalem en Juda sal heilig wees vir die HERE, Heerser oor alle magte. Almal wat wil offer, sal kom en van die kookpotte neem en daarin kook. Daar sal op daardie dag nie meer 'n handelaar in die huis van die HERE, Heerser oor alle magte, wees nie.