Sagaria 14:1-8

Sagaria 14:1-8 AFR20

“Kyk, daar kom 'n dag van die HERE! Jou buit, Jerusalem, sal in jou midde verdeel word. Ek sal al die nasies vir die oorlog teen Jerusalem byeenbring. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue verkrag word. Die helfte van die stad sal in ballingskap weggaan, maar die res van die volk sal nie uit die stad uitgeroei word nie.” Daarna sal die HERE optrek en teen daardie nasies oorlog voer soos wanneer Hy veg op die dag van stryd. Op daardie dag sal sy voete staan op die Olyfberg, wat voor Jerusalem aan die oostekant lê. Die Olyfberg sal middeldeur skeur van oos na wes, 'n baie groot vallei sal ontstaan. Die een helfte van die berg sal verskuif na die noorde en die ander helfte na die suide. Julle sal vlug na die vallei tussen my berge, want die vallei tussen die berge sal tot by Asal strek. Julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom en al die heiliges sal saam met Hom wees. Op daardie dag sal daar nie lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. Dit sal 'n uitsonderlike tyd wees wat net aan die HERE bekend is, sonder dag of nag. Teen die aand sal dit lig word. In daardie tyd sal daar vars water uit Jerusalem vloei, die een helfte na die oostelike see en die ander helfte na die westelike see. In die somer en in die winter sal dit so wees.