SAGARIA 14:1-8

SAGARIA 14:1-8 NLV

Kyk, die Dag van die HERE kom wanneer al jou besittings reg voor jou geplunder gaan word. Op daardie dag sal Ek al die nasies bymekaarmaak om teen Jerusalem oorlog te maak. Die stad sal ingeneem word, die huise geplunder en die vroue sal verkrag word. Die helfte van die stad se inwoners sal in ballingskap gaan en die ander helfte sal oorleef tussen die ruïnes van die stad. Dan sal die HERE oorlog voer teen daardie nasies, net soos Hy in die verlede gedoen het. Op daardie dag sal sy voete op die Olyfberg staan, aan die oostekant van Jerusalem. Die Olyfberg sal middeldeur skeur en so sal ’n vallei wat van oos na wes loop, gevorm word, want die een helfte van die berg sal noord skuif en die ander helfte van die berg sal suid skuif. Julle sal deur hierdie vallei vlug, want dit sal tot by Asal strek. Ja, julle sal vlug soos julle vir die aardbewing gevlug het in die tyd van koning Ussia van Juda. Dan sal die HERE my God kom en al die heiliges saam met Hom. Op daardie dag sal daar geen lig wees nie, ook nie koue of ryp nie. Tog sal dit aanhoudend dag wees! Net die HERE weet hoe dit kan gebeur! Daar sal geen normale dag of nag wees nie, want teen die aand se kant sal dit steeds lig wees. Op daardie dag sal daar lewegewende water uit Jerusalem vloei, een deel in die rigting van die Dooie See en ’n ander deel na die Middellandse See, somer en winter sal dit so wees.