Sagaria 10

10
1 Vra vir die Here reën in die tyd
van die laatreëns.
Die Here wat die donderwolke maak,
sal vir hulle stortreën gee
en vir die mens groen plante
in die veld;
2want die huisgode beloof
bedrieglike dinge,
en die waarsêers se visioene is vals.
Hulle verkondig vals drome
en hulle troos tevergeefs.
Daarom trek die mense rond
soos kleinvee,
hulle kry swaar omdat daar
nie 'n herder is nie.
Herstel van Juda en Israel
3“Teen die herders het my toorn ontbrand,
die voorbokke gaan Ek straf.”
Ja, die Here, Heerser oor alle magte,
versorg sy kudde, die huis van Juda;
Hy maak hulle soos sy trotse perd
in die oorlog.
4Uit Juda sal die hoeksteen kom,
uit hom die tentpen,
uit hom die strydboog;
uit hom sal alle onderdrukkers
saam weggaan.
5Hulle sal soos krygshelde wees
wat in 'n geveg die vyand
in die modder van die strate vertrap.
Hulle sal veg omdat die Here met hulle is,
en hulle sal die vyand
se perderuiters verneder.
6“ Ek sal die huis van Juda sterk maak,
en die huis van Josef sal Ek verlos.
Ek sal hulle laat terugkom
omdat Ek My oor hulle ontferm.
Hulle sal wees asof Ek hulle
nooit verwerp het nie,
want Ek is die Here hulle God,
en Ek sal hulle verhoor.
7 Efraim sal wees soos krygshelde,
hulle harte sal vrolik wees
soos van wyn.
Hulle kinders sal dit sien en bly wees,
hulle sal van harte juig oor die Here.
8 Ek sal vir hulle fluit
en hulle bymekaarmaak,
want Ek het hulle verlos
en hulle sal vermeerder soos voorheen.
9 Ek sal hulle tussen die volke saai
en in verre lande sal hulle aan My dink.
Hulle sal saam met hulle kinders
leef en weer terugkom.
10 Ek sal hulle terugbring
uit Egipteland,
en uit Assirië sal Ek hulle bymekaarmaak.
Na die gebied van Gilead
en Libanon sal Ek hulle bring;
maar dit sal nie vir hulle
voldoende wees nie.”
11 Hulle sal in benoudheid
deur die see trek,
en Hy sal die golwe in die see verslaan.
Al die dieptes van die Nyl sal opdroog.
Die trots van Assirië
sal tot 'n val gebring word,
en die heerskappy van Egipte
tot 'n einde kom.
12 “Ek sal hulle sterk maak in die Here; in sy Naam sal hulle leef,” is die uitspraak van die Here.

Tans Gekies:

Sagaria 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid