Titus 1:3-9

Titus 1:3-9 AFR20

en wat sy woord op sy eie tyd bekend gemaak het deur die verkondiging, wat in opdrag van God, ons Verlosser, aan my toevertrou is – aan Titus, my egte seun op grond van ons gemeenskaplike geloof: Genade en vrede van God, ons Vader, en Christus Jesus ons Verlosser. Hiervoor het ek jou in Kreta laat agterbly: dat jy onafgehandelde sake kan afhandel, en in elke dorp ouderlinge kan aanstel, soos ek aan jou opgedra het. Dit moet iemand wees wat onberispelik is, 'n man met een vrou, en met gelowige kinders, wat nie van losbandige gedrag beskuldig kan word, of opstandig is nie. Want 'n opsiener moet, as bestuurder oor die huishouding van God, onberispelik wees: nie eiesinnig of humeurig nie, iemand wat nie te veel drink of skoorsoekerig is of oneerlike wins najaag nie, maar gasvry, lief vir die goeie, verstandig, regverdig, toegewyd en selfbeheersd. Hy moet hom hou aan die betroubare woord, in ooreenstemming met die lering, sodat hy deur die gesonde leer kan bemoedig, en ook hulle wat dit teengaan, verkeerd kan bewys.