TITUS 1:3-9

TITUS 1:3-9 Die Boodskap (DB)

Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Hy het ook vir my gesê om dit aan ander mense te gaan oorvertel. En wat ’n wonderlike werk is dit nie om te preek dat God ons Verlosser is nie! Titus, hierdie brief is aan jou gerig. Jy is vir my soos my eie kind, want jy glo ook. Ons al twee is nou deel van God se nuwe familie. Die goedheid en vrede van God ons Vader en Christus Jesus, ons Verlosser, is ook by jou. Ek het jou vroeër op die eiland Kreta agtergelaat. Dit was met ’n spesifieke doel. Ek wil hê jy moet sorg dat sake in die verskillende gemeentes reg en goed georganiseer is. Verder moet jy ook in die verskillende dorpe ouderlinge aanstel soos ek vir jou gesê het. ’n Kerkleier se ganse lewe moet wys dat hy die Here ken. Hy moet getrou wees aan sy vrou. Sy kinders moet die Here dien. Hulle moenie van die een wilde partytjie na die ander hardloop en teen hulle ouers opstandig raak nie. Onthou, ’n ouderling staan aan die stuur van God se familie van gelowiges hier op aarde. Sy ganse lewe moet daarom vertel dat hy doen wat die Here sê. Hy moenie vol van homself wees nie, ook nie kort van draad en humeurig nie. Drank mag nooit sy baas wees nie. Hy moenie net regstaan om te stry en baklei nie. Ook mag hy glad nie in skelm saketransaksies betrokke wees nie. Sy huis en hart moet altyd oopstaan vir ander gelowiges, al ken hy hulle nie. Dit moet vir hom ’n groot vreugde wees om goeie dinge vir ander te doen. Hy moet nugter en beheersd wees. In alle omstandighede moet hy reg optree. Hy moet leef soos die Here wil hê. Hy moet homself goed kan beheer sodat die sonde geen houvas op sy lewe kry nie. Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Dan kan hy hierdie betroubare kennis gebruik om ander gelowiges moed in te praat en te troos. Maar hy moet hierdie kennis ook gebruik om mense wat vals leerstellings verkondig te wys dat hulle verkeerd is.

TITUS 1:3-9 Bybel vir almal (ABA)

God, ons Redder, het op die regte tyd sy boodskap gestuur en Hy het vir my gesê ek moet die boodskap vir mense bring. Ek, Paulus, skryf hierdie brief vir jou, Titus. Jy is vir my soos my eie kind, omdat ons saam in Christus glo. Ek bid dat God die Vader en Christus Jesus ons Redder genadig sal wees vir jou en dat Hy ook vir jou vrede sal gee. Weet jy hoekom ek gesê het jy moet op die eiland Kreta bly? Dit is sodat jy al die dinge kan doen wat ek nie gedoen het nie. Jy moet ook in elke stad ouderlinge kies en aanstel. Ek het vir jou gesê hoe jy dit moet doen. Niemand moet oor hulle kan praat en sê dat 'n ouderling verkeerde dinge doen nie. 'n Ouderling moet net een vrou hê, en sy kinders moet gelowiges wees. Mense moenie oor hulle kan praat en sê dat die kinders wild lewe en verkeerde en slegte dinge doen en ongehoorsaam is nie. 'n Ouderling werk vir God, daarom moet niemand oor hom kan praat en sê dat hy verkeerde dinge doen nie. Hy moenie dink dat hy beter is as ander mense nie, hy moenie gou kwaad word nie, hy moenie te veel drink en dan dronk word nie, hy moenie daarvan hou om te baklei nie, en hy moenie altyd meer goed wil hê nie. Nee, hy moet goed wees vir vreemdelinge, hy moet daarvan hou om goeie dinge te doen, hy moet weet hoe om reg te lewe, hy moet doen wat reg is, hy moet aan God gewy wees en hy moenie sy humeur verloor en kwaad word nie. 'n Ouderling moet aanhou om die boodskap te glo, die boodskap wat waar is en wat dieselfde is as die boodskap wat die apostels vir hom geleer het. Dan sal hy vir mense kan bemoedig. En wanneer mense ander dinge sê as die dinge wat ons vir hulle geleer het, dan sal hy ook vir hulle kan sê dat hulle verkeerd is.