Hooglied 2:4-16

Hooglied 2:4-16 AFR20

Hy neem my na 'n wynhuis onder die vaandel van liefde. Verfris my met rosyntjies, verkwik my met appels, want ek is siek van liefde. Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my. Meisies van Jerusalem, ek besweer julle by die ribbok- en takbokooie van die veld: Moenie die liefde aanwakker nie, moet dit nie opwek nie, voordat dit nie self wil ontwaak nie. Luister! My liefste! Kyk! Daar kom hy, al bokspringend oor die berge, al huppelend oor die heuwels! My liefste is soos 'n ribbok, soos 'n jong rooitakbok. Kyk! Hy staan agter ons huismuur, hy kyk by die vensters in, hy loer deur die latwerk. My liefste antwoord my, hy sê vir my: “Staan op, my liefling, my mooiste, en kom! Want kyk, die winter het verbygegaan, die reën is verby, dit het opgeklaar. Die veld staan in die blom. Die tyd om te sing het aangebreek, die gekoer van die tortelduiwe klink op in ons land. Die vyeboom laat sy groen vye uitswel, die wingerd bot en versprei sy geur. Staan op, my liefling, my mooiste, en kom! My duif in die rotsskeure, in die skuilplekke teen die bergkrans – laat my jou gesig sien, laat my jou stem hoor, want jou stem is soet en jou gesig is pragtig.” Vang vir ons die jakkalse – die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat bot. My liefste is myne en ek is syne, hy wat tussen die narsings wei.