Naomi het aan haar man se kant 'n familielid gehad, 'n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort.
Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die HERE is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die HERE seën u,” antwoord hulle hom. Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is 'n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!”
Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in 'n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”
Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om, en dit terwyl ek 'n buitelander is?” Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou vader, jou moeder en jou geboorteland verlaat het en dat jy na 'n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het. ”
“U is goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!”
Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou.
Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!”
Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer 'n efa gars. Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar skoonmoeder.
Haar skoonmoeder vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees! ” Sy vertel toe vir haar skoonmoeder by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die HERE, wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers. ”
Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by my werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’ ” Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan, sodat mans jou nie op 'n ander land lastig val nie.”
Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonmoeder gebly.