RUT 2:1-23

RUT 2:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man wat familie was van Naomi se man Elimelek. Die man was ryk en sy naam was Boas. Rut, die Moabitiese vrou, het vir Naomi gevra: “Mag ek asseblief na 'n garsland gaan en gars-are gaan optel by iemand wat my toelaat om dit te doen?” Naomi het gesê: “My dogter, jy mag gaan.” Rut het toe gegaan om die gars-are op te tel wat geval het wanneer die mense die are afsny. Dit het gelukkig so gebeur dat sy gekom het by die garsland wat behoort het aan Boas, die man wat familie was van Elimelek. Boas het dieselfde tyd van Betlehem gekom. Hy het die mense gegroet wat die gars afsny, en hy het gesê: “Ek bid dat die Here by julle sal wees.” En hulle het geantwoord: “Ons bid dat die Here jou sal seën.” Toe vra Boas vir sy slaaf wat moes kyk dat die mense goed werk: “Wie is hierdie jong vrou?” Die slaaf het geantwoord: “Sy is 'n jong Moabitiese vrou. Dit is sy wat saam met Naomi uit die land Moab gekom het. Sy het gevra of sy die are mag optel wat val wanneer die mense die gars afsny. Sy het gekom en sy het van vanoggend tot nou toe gewerk, sy het nie by die huis gaan rus nie.” Boas sê toe vir Rut: “Dogter, luister, jy moenie in 'n ander garsland gaan are optel nie. Jy moet ook nie hier weggaan nie. Bly naby die vroue wat vir my werk. Kyk waar hulle die gars afsny en loop agter hulle. Ek het vir my slawe gesê hulle moenie vir jou pla nie. En jy kan water gaan drink uit die kruike wat my slawe volgemaak het.” Rut het laag op die grond gebuig en sy het vir Boas gesê: “Hoekom is jy so vriendelik met my? Hoekom praat jy met my? Ek kom uit 'n ander land.” Toe sê Boas vir Rut: “Die mense het vir my alles vertel, hulle het vir my vertel wat jy vir jou skoonma gedoen het nadat jou man dood is. Ek weet jy het weggegaan van jou ouers en jou land en jou familie en jy het na mense toe gekom wat jy voorheen nie geken het nie. Jy het gekom na die Here, die God van Israel, sodat Hy jou kan beskerm. Ek bid dat die Here goed sal wees vir jou omdat jy dit gedoen het.” Rut het gesê: “Dankie, Meneer, ek is nie een van die vroue wat vir jou werk nie, maar jy is vriendelik met my en jy is goed vir my. Jy sê mooi dinge vir my.” Toe dit tyd was om te eet, sê Boas vir Rut: “Kom eet saam met ons. Neem vir jou van die brood en druk dit in die wyn.” Sy het toe kom sit by die mense wat die gars afsny, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Sy het genoeg geëet en daar was nog koring oor. Toe sy weer begin om are op te tel, het Boas vir sy werkers gesê: “Sy kan ook are optel tussen die gars-gerwe, en julle moenie vir haar pla nie. Julle moet ook are uit die gerwe trek en dit laat val sodat sy dit kan optel, en julle moenie met haar raas nie.” Rut het tot die aand are opgetel, en toe sy die are wat sy opgetel het, uitslaan om die korrels uit te haal, was dit 'n groot mandjie vol. Sy het dit geneem en na die stad gegaan en vir haar skoonma gewys wat sy opgetel het. Sy het ook van die gebraaide koring uitgehaal wat die middag oorgebly het en sy het dit vir haar skoonma gegee. Haar skoonma het gesê: “Waar het jy vandag are opgetel? Waar het jy gewerk? Ek bid dat die Here die man sal seën wat so goed was vir jou.” Rut het vir haar skoonma vertel by wie sy gewerk het. Sy het gesê: “Die man by wie ek vandag gewerk het, is Boas.” Toe sê Naomi vir haar skoondogter: “Die Here was goed vir ons mans wat dood is, en Hy is goed vir ons. Ek bid dat Hy die man sal seën. Hy is familie van ons, hy is een van ons lossers.” Rut, die Moabitiese vrou, het gesê: “Die man het ook vir my gesê dat ek naby die mense moet bly wat vir hom werk, totdat hulle al die gars klaar afgesny het.” Toe sê Naomi vir haar skoondogter Rut: “My dogter, dit is goed dat jy saam met die vroue loop wat vir hom werk. Op 'n ander garsland sal die mense jou miskien pla.” Rut het toe naby die vroue gebly wat vir Boas gewerk het, en sy het are opgetel totdat hulle die gars en die koring klaar afgesny het. Sy het by haar skoonma gewoon.

RUT 2:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Naómi het 'n bloedverwant gehad van haar man se kant, 'n vermoënde man, uit die geslag van Eliméleg, wie se naam Boas was. En Rut, die Moabitiese, het vir Naómi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan, my dogter. Daarop het sy heengegaan, en gekom en are opgetel op die land agter die snyers. En gelukkig kom sy op 'n stuk land af wat behoort aan Boas, uit die geslag van Eliméleg. En Boas het juis van Betlehem af gekom en aan die snyers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle het hom geantwoord: Mag die HERE u seën! Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou? En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naómi uit die veld van Moab teruggekom het; en sy het gesê: Kan ek maar are optel en insamel by die gerwe agter die snyers? Sy het toe gekom en gebly van vanmôre af tot nou toe; sy het maar min daar in die huis gesit. Toe sê Boas vir Rut: Luister tog, my dogter: jy moenie op 'n ander land gaan are optel nie, en jy mag ook nie hiervandaan weggaan nie; maar jy moet jou by my diensmeisies aansluit. Met die oë op die land wat hulle afsny, moet jy agter hulle aan loop. Het ek die dienaars nie bevel gegee om jou nie aan te raak nie? En as jy dors het, gaan dan na die kanne en drink van wat die dienaars skep. Toe val sy op haar aangesig en buig na die aarde toe en sê vir hom: Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belang stel alhoewel ek 'n vreemdeling is? En Boas antwoord en sê vir haar: Aan my is alles omstandig vertel wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man, en dat jy jou vader en jou moeder en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk getrek het wat jy gister en eergister nie geken het nie. Mag die HERE jou daad vergelde, en mag jou loon volkome wees van die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het. Toe sê sy: So vind ek dan genade in u oë, my heer! Want u het my getroos en na die hart van u dienares gespreek, alhoewel ek nie soos een van u dienaresse is nie. En teen etenstyd het Boas vir haar gesê: Kom hierheen en eet van die brood en steek jou stukkie in die asyn. Daarop gaan sy langs die snyers sit, en hy het haar gebraaide koring gegee, en sy het geëet en versadig geword en oorgehou. Toe sy weer opstaan om are op te tel, het Boas sy dienaars bevel gegee en gesê: Sy mag ook tussen die gerwe optel, en julle mag haar nie beledig nie. En julle moet ook so nou en dan vir haar uit die bondels uittrek en dit laat lê, dat sy dit kan optel; en julle mag haar nie keer nie. En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent 'n efa gars. En sy het dit weggedra; en toe sy in die stad kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het; ook het sy uitgehaal en aan haar gegee wat sy oorgehou het nadat sy versadig was. Daarop vra haar skoonmoeder haar: Waar het jy vandag opgetel, en waar het jy gewerk? Mag hy geseënd wees wat in jou belang gestel het! En sy vertel haar skoonmoeder by wie sy gewerk het, en sê: Die naam van die man by wie ek vandag gewerk het, is Boas. En Naómi sê vir haar skoondogter: Mag hy geseënd wees deur die HERE, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. Verder sê Naómi vir haar: Die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers. Toe sê Rut, die Moabitiese: Hy het ook nog vir my gesê: By my dienaars moet jy aansluit totdat hulle klaar is met die hele oes wat aan my behoort. Daarop het Naómi haar skoondogter Rut geantwoord: Dit is goed, my dogter, dat jy met sy diensmeisies saam uitgaan en aan jou geen kwaad op 'n ander land aangedoen word nie. So het sy dan by die diensmeisies van Boas aangesluit om are op te tel totdat hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder gewoon.

RUT 2:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Naomi het 'n vermoënde familielid gehad van haar man Elimelek se kant af. Sy naam was Boas. Rut, die Moabitiese vrou, vra toe vir Naomi: “Mag ek lande toe gaan om are op te tel by iemand wat my toelaat om dit te doen?” Naomi antwoord haar: “Gaan gerus maar, my dogter.” Sy het toe geloop om in die land te gaan are optel agter die graansnyers aan. Sy het uitgekom by dié deel van die land wat behoort het aan Boas, die familielid van Elimelek. Boas het toe juis self uit Betlehem daar aangekom en hy het vir die snyers gesê: “Mag die Here by julle wees,” en hulle het hom geantwoord: “Mag die Here u seën.” Boas vra toe vir sy voorman: “Wie is daardie meisie?” en hy antwoord: “Sy is 'n Moabitiese meisie wat saam met Naomi van Moab af gekom het. Sy het gevra of sy are agter die snyers mag optel. Sy het toe gekom en is nog al die tyd besig van vanmôre af tot nou toe. Sy rus nou net 'n bietjie.” Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, moenie op 'n ander land gaan are optel nie; moet ook nie hier weggaan nie. Bly hier by die meisies. Bly op die land waar hulle oes, en volg hulle. Ek het die mans aangesê om jou nie lastig te val nie. En wanneer jy dors is, gaan na die waterkruike toe en drink van die water wat die werksmense vir hulle geskep het.” Rut het diep gebuig voor Boas en gevra: “Waarom is u so goed vir my en stel u belang in my, in 'n buitelander?” Boas antwoord haar toe: “Ek weet van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het na die dood van haar man en dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het en na 'n volk toe gekom het waarvan jy vantevore niks geweet het nie. Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy 'n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.” Sy het geantwoord: “Meneer, u bewys my 'n guns, u laat my goed voel, u is vriendelik met my, al is ek nie eers een van u slavinne nie.” Toe dit etenstyd was, sê Boas vir haar: “Kom hierheen en eet 'n stukkie brood en doop dit in die wynsous.” Sy het toe by die snyers gaan sit, en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Nadat sy genoeg geëet het en selfs oorgehou het, het sy opgestaan om weer te gaan are optel. Boas het sy werkers toe beveel: “Sy mag selfs tussen die gerwe are optel en julle mag haar nie pla nie; julle moet ook van die are uit die gerwe haal en dit op die grond laat val. Sy mag dit optel sonder dat julle haar daaroor aanspreek.” Rut het tot die aand toe are opgetel in die land. En toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit ongeveer dertien kilogram. Sy het dit gevat en saamgeneem stad toe. Haar skoonma het gesien hoeveel sy bymekaargemaak het. Rut het ook van die kos wat sy oorgehou het, vir haar skoonma gegee. Haar skoonma vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en wat het jy alles gedoen? Mag dié een wat in jou belang gestel het, deur die Here geseën word.” Sy het toe vir haar skoonma vertel wat sy gedoen het en dat die man by wie sy die dag gewerk het, se naam Boas is. Naomi sê toe vir haar skoondogter: “Mag hy geseën word deur die Here wat nie nalaat om sy trou aan lewendes en dooies te bewys nie. En,” het Naomi bygevoeg, “hierdie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.” Rut, die Moabitiese vrou, sê toe: “Hy het ook nog vir my gesê ek moet by sy werksters bly totdat hulle klaar geoes het.” Hierop sê Naomi vir haar: “Dit is goed vir jou, my dogter, dat jy saam met sy werksters uitgaan. Op 'n ander land sal jy dalk gemolesteer word.” Rut het toe saam met die werksters van Boas are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het nog by haar skoonma gewoon.

RUT 2:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Naomi het aan haar man se kant 'n familielid gehad, 'n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort. Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die HERE is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die HERE seën u,” antwoord hulle hom. Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is 'n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!” Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in 'n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.” Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om, en dit terwyl ek 'n buitelander is?” Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou vader, jou moeder en jou geboorteland verlaat het en dat jy na 'n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het. ” “U is goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!” Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou. Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!” Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer 'n efa gars. Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar skoonmoeder. Haar skoonmoeder vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees! ” Sy vertel toe vir haar skoonmoeder by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die HERE, wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers. ” Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by my werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’ ” Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan, sodat mans jou nie op 'n ander land lastig val nie.” Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonmoeder gebly.

RUT 2:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Naomi het 'n bloedverwant van haar man gehad, 'n sterk man van welstand, uit die geslag van Eliméleg; en sy naam was Boas. Toe sê Rut, die Moabitiese vrou, vir Naomi: Laat my tog land toe gaan en are optel agter hom in wie se oë ek genade sal vind. En sy sê vir haar: Gaan, my dogter! En sy het gegaan en gekom en opgetel in die land agter die maaiers aan; En kyk, Boas het van Betlehem af gekom en aan die maaiers gesê: Mag die HERE met julle wees! En hulle antwoord hom: Mag die HERE jou seën! Toe sê Boas vir sy dienaar wat oor die maaiers aangestel was: Wie se meisie is hierdie? En die dienskneg wat oor die maaiers aangestel was, het geantwoord en gesê: Dit is die Moabitiese meisie wat saam met Naomi uit die land Moab teruggekom het. En sy sê: Laat my tog optel en agter die maaiers bymekaar maak onder die gerwe; en sy het gekom en bly van die môre af tot nou toe dat sy 'n bietjie in die huis vertoef het. Toe sê Boas vir Rut: Hoor jy nie, my dogter? Gaan nie om op 'n ander land op te tel nie, en gaan ook nie van hier af nie, maar bly hier vas by my diensmeisies. Laat jou oë op die land wees wat hulle maai, en gaan agter hulle aan; het Ek nie die jongmanne bevel gegee om jou nie aan te raak nie? en as jy dors is, gaan na die voorwerpe en drink van wat die jongmanne getrek het. Toe val sy op haar aangesig en buig haar na die grond en sê vir hom: Waarom het ek genade in u oë gevind, dat U my sou leer ken, aangesien ek 'n vreemdeling is? En Boas antwoord en sê vir haar: Dit is my ten volle geopenbaar alles wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het sedert die dood van jou man, en hoe jy jou vader en jou moeder en die land van jou geboorte verlaat het, en het gekom na 'n volk wat jy nie van tevore geken het nie. Die HERE vergeld jou werk, en 'n volle loon word aan jou gegee deur die HERE, die God van Israel, onder wie se vleuels jy vertrou het. Toe sê sy: Laat my guns in u oë vind, my heer; omdat jy my getroos het en dat jy vriendelik met u dienares gespreek het, al is ek nie soos een van u diensmaagde nie. En Boas sê vir haar: Kom jy hier met etenstyd en eet van die brood en doop jou stukkie in die asyn. En sy het by die maaiers gaan sit, en hy het by haar gebraaide koring gekom, en sy het geëet en genoeg geword en weggegaan. En toe sy opstaan om op te tel, het Boas sy jongmanne bevel gegee en gesê: Laat sy selfs tussen die gerwe optel en haar nie smaad nie. En laat ook van die handevol opsetlikes vir haar val en hulle verlaat, dat sy dit kan optel en haar nie kan bestraf nie. Sy het toe in die land opgetel tot die aand toe en uitgeslaan wat sy opgetel het, en dit was omtrent 'n efa gars. En sy het dit opgeneem en in die stad ingegaan, en haar skoonmoeder het gesien wat sy opgetel het; En haar skoonmoeder sê vir haar: Waar het jy vandag opgetel? en waar het jy bewerk? geseënd is hy wat van jou kennis geneem het. En sy het haar skoonmoeder te kenne gegee met wie sy gewerk het, en gesê: Die naam van die man met wie ek vandag gewerk het, is Boas. Toe sê Naomi aan haar skoondogter: Geseënd is hy van die HERE wat sy goedertierenheid aan die lewendes en aan die dooies nie opgehou het nie. En Naómi sê vir haar: Die man is naasbestaande aan ons, een van ons bloedverwante. En Rut, die Moabitiese, sê: Hy het ook vir my gesê: Jy moet vashou by my jongmanne totdat hulle al my oes beëindig het. Toe sê Naomi vir haar skoondogter Rut: Dit is goed, my dogter, dat jy saam met sy diensmeisies uitgaan, dat hulle jou op geen ander veld ontmoet nie. Daarom het sy vasgehou by die meisies van Boas om op te tel tot die einde van die gars-oes en die koring-oes; en het by haar skoonmoeder gewoon.

RUT 2:1-23 Die Boodskap (DB)

In Betlehem was daar ’n bekende en invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimeleg. Op ’n dag vra Rut vir Naomi: “Sal dit reg wees as ek na die lande toe gaan en van die koringare optel wat agterbly as hulle klaar geoes het, as hulle my sal toelaat?” “Natuurlik, gaan doen dit gerus,” was Naomi se antwoord. Rut is toe uit na die lande toe waar sy are agter die werkers loop en optel het. Sy het toevallig op ’n stuk land beland wat aan Boas, die familielid van Elimeleg, behoort het. Intussen het Boas ook uit Betlehem daar aangekom. Hy en sy werkers het mekaar vriendelik gegroet, soos dit die gebruik was. Boas het vir Rut raakgesien en vir sy voorman gevra wie die vreemde vrou is wat op sy land are optel. Hierop het die voorman geantwoord: “Dit is Naomi se skoondogter wat saam met haar uit Moab uit teruggekom het. Sy het vanmôre al gevra of sy are agter die werkers mag optel. Van toe af werk sy nog aanmekaar. Sy rus nou vir die eerste keer ’n bietjie daar in die koelte.” Boas stap toe na Rut toe en sê vir haar: “As ek jou raad kan gee, moenie op ’n ander land gaan are optel nie. Bly by die vroue wat hier op my land werk. Kyk waar hulle are optel en volg hulle. Ek het ook die werkers gewaarsku om jou nie te pla nie. En as jy dors word, gaan drink gerus water daar by die kanne wat hulle vir hulleself volgemaak het.” Rut het baie beleefd dankie gesê. “Maar,” vra sy toe vir hom, “hoekom is u bekommerd oor my? Ek is tog maar net ’n vreemdeling hier.” Boas sê toe vir haar: “Ek het gehoor van alles wat jy vir jou skoonma gedoen het ná jou man se dood, dat jy bereid was om jou ouers en jou geboorteland prys te gee om hier saam met haar tussen ’n klomp vreemde mense te kom bly. Mag die Here, die God van Israel, by wie jy hulp kom soek het, vir jou baie goed wees. Mag Hy jou goed versorg oor al die mooi dinge wat jy gedoen het.” “U is baie vriendelik, Meneer,” sê sy toe vir hom. “Ek is bly dat u so ordentlik met my praat al is ek nie een van u werkers nie.” Met etenstyd het Boas vir Rut geroep en gesê: “Kom eet saam met ons. Vat gerus ook van die brood en doop dit in die wynsous om jou dors weg te vat.” Sy het toe by die werkers gaan sit en Boas het vir haar gebraaide koring gegee. Toe sy klaar geëet het, was daar genoeg oor om saam te vat huis toe. Toe Rut weg is om verder te gaan werk, het Boas vir sy werkers gesê: “Laat haar toe om ook tussen die gerwe koringare op te tel. Moenie haar keer om dit te doen nie. Julle moet ook so nou en dan van die are uit die bondels uittrek en dit spesifiek vir haar los sodat sy dit kan optel. Moenie dit moeilik maak vir haar nie.” Rut het tot die aand toe are op die land opgetel. Toe sy later die are uitslaan om die graan en die halms te skei, was daar omtrent tien kilogram graan. Rut het die koring teruggevat dorp toe en vir haar skoonma gaan wys hoeveel sy die dag bymekaargemaak het. Sy het ook vir Naomi van die kos gegee wat van die middag se ete oorgebly het. Naomi was so verbaas dat sy sommer gevra het: “Waar kry jy so baie? Op wie se land het jy gewerk? Mag die Here baie goed wees vir die persoon wat jou gehelp het!” Rut het haar toe vertel wat sy gedoen het en dat sy op die land van ’n man met die naam Boas gewerk het. “Mag die Here Boas seën!” het Naomi gesê. “Die Here kom altyd sy beloftes na aan dié wat lewe en selfs ook dié wat al dood is. Weet jy, hierdie man is familie van ons. Om die waarheid te sê, hy is eintlik een van die mense wat veronderstel is om vir ons te sorg omdat ons nie meer mans of kinders het nie.” Toe sê Rut: “Dis nie al nie. Hy het ook gesê ek moet terugkom en elke dag saam met sy werkers are kom optel totdat die hele oes van die land af is.” Naomi sê toe vir Rut: “Dis goed so. Jy moet eerder saam met die vroue op Boas se land werk. Jy mag dalk net beledig word as jy op iemand anders se land gaan werk.” Rut het toe saam met die ander vroue in Boas se land are opgetel totdat die gars- en koringoes ingesamel was. Sy het die hele tyd by haar skoonma gebly.

RUT 2:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In Betlehem was daar ’n welgestelde, invloedryke man met die naam Boas. Hy was familie van Naomi se man, Elimelek. Eendag vra Rut, die Moabitiese vrou, vir Naomi: “Mag ek gaan are optel op die landerye by iemand wat my sal toelaat om dit te doen?” Naomi antwoord haar: “Dis goed so, my dogter, gaan gerus.” Rut is na die landerye toe om agter die snyers te gaan are optel. Dit gebeur toe dat sy op die landerye van Boas, die bloedverwant van haar skoonpa, beland. Boas kom toe juis van Betlehem af en groet sy werknemers: “Die HERE is met julle!” het hy gesê. “Mag die HERE u seën!” antwoord die snyers. Toe vra Boas vir sy voorman: “Wie is daardie jong vrou?” Die voorman antwoord hom: “Sy is die jong vrou uit Moab wat saam met Naomi teruggekom het. Sy het vir my gevra of sy die are agter die snyers mag optel. Sy het nog die hele tyd aanmekaar gewerk, behalwe vir die kort tydjie toe sy daar onder die skuiling gaan rus het.” Toe loop Boas na haar toe en sê vir Rut: “Luister, my dogter: Bly net hier by ons en tel hier are op. Moenie na ander landerye toe gaan nie. Bly gerus by die vroue wat vir my werk. Kyk op watter deel van die landerye hulle oes en gaan saam met hulle. Ek het die werksmense opdrag gegee om jou nie lastig te val nie. As jy dors word, gaan drink gerus van die water in die houers wat my werkers vir hulle uit die put geskep het.” Rut het diep voor hom gebuig en hom gevra: “Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ’n buitelander is?” Boas antwoord haar: “Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy ná die dood van jou man aan jou skoonma betoon het. Ek het gehoor dat jy jou ouers en jou geboorteland verlaat het om hier tussen vreemde mense te kom woon. Mag die HERE, die God van Israel, onder wie se vlerke jy kom skuiling soek het, jou ten volle beloon.” “U laat my goed voel, Meneer,” antwoord sy. “U het my bemoedig deur so vriendelik met my te praat al is ek nie eers een van u slavinne nie.” Teen etenstyd laat roep Boas haar: “Kom hiernatoe en eet van ons brood en doop dit in die suur wyn.” Sy het toe saam met die werkers gaan sit. Boas het vir haar geroosterde koring gegee – meer as wat sy kon eet. Toe Rut weg is om weer te gaan are optel, sê Boas vir sy werkers: “Julle moet haar toelaat om are tussen die gerwe op te tel sonder dat sy gepla word. Trek ook van die are uit die gerwe uit en laat dit met opset op die grond val sodat sy dit kan optel. Moenie haar keer om dit op te tel nie.” Rut het die hele dag lank are opgetel en toe sy dit die aand uitslaan, was dit omtrent ’n halwe mandjie vol. Sy het dit opgetel en saamgeneem dorp toe. Haar skoonma het gesien hoe baie sy opgetel het. Rut het ook van die kos wat oorgebly het, vir haar gegee. “Waar het jy vandag are opgetel?” vra Naomi haar toe. “Mag die HERE die een seën wat jou gehelp het!” Rut vertel toe vir haar skoonma van die man op wie se landerye sy gewerk het. Sy sê verder: “Die man op wie se landerye ek vandag gewerk het se naam is Boas.” “Mag hy geseënd wees deur die HERE wat nie opgehou het om getrou te wees aan dié wat lewe en dié wat dood is nie!” sê Naomi vir haar skoondogter. Sy voeg by: “Daardie man is familie van ons. Hy is een van ons lossers.” Rut vertel toe verder: “Boas het boonop vir my gesê om weer terug te kom en by sy werkers te bly totdat die hele oes ingesamel is.” “Dis wonderlik!” roep Naomi uit. “Maak soos hy vir jou sê. Bly by sy werkers vir die duur van die oestyd. Daar sal jy veilig wees, maar op ’n ander land kan jy dalk gemolesteer word.” So het Rut saam met die werkers tot die einde van die garsoes en die graanoes gebly en op Boas se landerye are opgetel. Sy het steeds by haar skoonma gewoon.