Rut 1:15-22

Rut 1:15-22 AFR20

Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk, u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. “Die HERE kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat. So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het. Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?” Sy het vir hulle gesê: “Moet my nie Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Met 'n vol lewe is ek hier weg, maar die HERE het my leeg laat terugkom. Waarom my Naomi noem terwyl die HERE my teenstander geword het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?” So het Naomi teruggekeer. Haar skoondogter, Rut die Moabiet, het saam met haar teruggekom uit die gebied van Moab. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.