Rut 1:15-22

Rut 1:15-22 DB

Naomi het haar weer probeer oorreed om terug te gaan en vir haar gesê: “Jou skoonsuster is terug na haar eie mense toe waar sy weer haar eie geloof kan uitleef. Doen jy dit ook nou.” Dit is toe dat Rut vir haar sê: “Moenie my vra om om te draai en Ma alleen te los nie, ek sal dit nie doen nie. Ek gaan saam met Ma, waar Ma ook al heen gaan. Daar waar Ma besluit om te bly, sal ek saam met Ma bly. Ma se mense aanvaar ek as my eie mense, en die God wat Ma dien, is ook die God wat ek wil dien. Daar waar Ma eendag doodgaan, wil ek ook doodgaan en daar begrawe word. Mag die Here iets slegs aan my doen as iets anders as die dood ons twee sal skei.” Toe Naomi sien dat Rut vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat om terug te draai. Hulle twee is toe saam Betlehem toe. Toe hulle daar kom, was die dorp in rep en roer en die vroue het verbaas gesê: “Maar dis mos Naomi!” “Moenie my Naomi noem nie,” sê sy toe, “noem my eerder Mara (wat bitter beteken), want vandat ons hier weg is tot nou toe het dit bitter swaar met my gegaan. Dit voel vir my of die Almagtige met al sy gewig op my kom druk het en ek nie meer een tree vorentoe kan gee nie. Toe ek hier weg is, was my lewe nog vol. Ek het toe ’n man en kinders gehad, maar die Here het my dolleeg laat terugkom huis toe, sonder my gesin. Hoekom sou julle my dan nog Naomi wil noem? Dit voel vir my of selfs die Here die rug vir my gedraai het; asof die Here vir wie niks onmoontlik is nie, besluit het ek moet maar self verder regkom.” Dit is dan hoe Naomi en haar skoondogter Rut, ’n jong Moabitiese vrou, uit Moab na Betlehem teruggekom het. Hulle het aan die begin van die garsoes daar aangekom.