Romeine 8:1-13

Romeine 8:1-13 AFR20

Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van 'n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees. Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie. Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Daarom dan, broers, het ons 'n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef.