Romeine 14:1-12

Romeine 14:1-12 AFR20

Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou. Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir 'n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. Die een wat 'n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely. ” Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen.

Video vir Romeine 14:1-12