ROMEINE 14:1-12

ROMEINE 14:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Daar is gelowiges wat twyfel, hulle geloof is swak. Julle moet hulle aanvaar. Hulle dink miskien anders as julle oor party dinge en hulle dink hulle is reg. Julle moenie met hulle daaroor stry nie. Party gelowiges glo 'n mens mag alles eet. Maar party gelowiges se geloof is swak, en hulle dink 'n mens mag net groente eet. Die gelowiges wat alles eet, moenie dink dat die ander gelowiges nie belangrik is nie, die gelowiges wat nie alles eet nie. Die gelowiges wat nie alles eet nie, moenie sê die gelowiges wat alles eet, doen verkeerd nie, want God het die gelowiges wat alles eet, ook aanvaar. Dit is nie júlle wat mag besluit of 'n ander man se slaaf reg of verkeerd doen nie, sy eienaar besluit dit. Daarom, die gelowiges wat alles eet, doen reg, want dit is die Hére wat hulle reg laat doen, Hy kan dit doen. Daar is gelowiges wat dink een dag in die week is belangriker as die ander dae, en daar is ander gelowiges wat dink al die dae in die week is dieselfde. Maar hulle almal moet in hulle harte baie seker wees dat dit wat hulle dink, reg is. Hulle wat dink een dag in die week is belangriker as die ander dae, doen dit om die Here te dien. En die gelowiges wat alles eet, doen dit om die Here te dien, en hulle sê vir God dankie. En die gelowiges wat net groente eet, doen dit om die Here te dien, en hulle sê vir God dankie. Ons lewe nie om onsself te dien nie en ons sterf nie om onsself te dien nie. Wanneer ons lewe, dan lewe ons om die Here te dien. En wanneer ons sterf, dan sterf ons om die Here te dien. Ja, wanneer ons lewe, dan behoort ons aan die Here, en wanneer ons sterf, dan behoort ons aan die Here. Christus het gesterf, en Hy het weer begin lewe sodat Hy kan regeer oor almal, almal wat dood is en almal wat lewe. Jy moenie sê die ander gelowiges doen verkeerd nie. En jy moenie dink die ander gelowiges is onbelangrik nie. Jy moet onthou: God sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die Here sê: Ek het dit vir Myself belowe, Ek het gesê: Elke knie sal voor My buig, elke mens sal sê hy weet Ek is God. Dit beteken: Elkeen van ons sal self vir God moet antwoord oor alles wat ons gedoen het.

ROMEINE 14:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy wat die huiskneg van 'n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou. Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God. Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers. Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

ROMEINE 14:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg. Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.

ROMEINE 14:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou. Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir 'n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. Die een wat 'n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely. ” Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen.

ROMEINE 14:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Hom wat swak is in die geloof, ontvang julle, maar nie vir twyfelagtige geskille nie. Want die een glo dat hy alles kan eet; 'n ander wat swak is, eet kruie. Laat hy wat eet hom wat nie eet nie verag nie; en laat hom wat nie eet nie, hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy wat 'n ander man se dienaar oordeel? vir sy eie heer staan of val hy. Ja, hy sal vasgehou word, want God is magtig om hom te laat staan. Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag elke dag dieselfde. Laat elke mens ten volle oortuig wees in sy eie gedagtes. Hy wat die dag aanskou, ag dit tot eer van die Here; en wie nie op die dag ag gee nie, tot eer van die Here ag hy dit nie. Wie eet, eet tot eer van die Here, want hy loof God; en hy wat nie eet nie, tot eer van die Here eet hy nie, en hy dank God. Want niemand van ons leef vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. Want of ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en of ons sterwe, ons sterwe tot eer van die Here; of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Want vir hierdie doel het Christus gesterf en opgestaan en lewend gemaak, om Here te wees van dooies sowel as lewendes. Maar waarom oordeel jy jou broer? of waarom verag jy jou broer? want ons sal almal voor die regterstoel van Christus staan. Want daar is geskrywe: So waar as Ek leef, spreek die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So moet elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

ROMEINE 14:1-12 Die Boodskap (DB)

Moenie maak asof jy beter is as ander gelowiges wie se geloof nog nie so sterk soos joune is nie. Aanvaar hulle met oop arms sonder om van vroeg tot laat met hulle te stry en baklei. Ek wil dit met ’n voorbeeld illustreer. ’n Christen wie se geloof sterk is, het nie ’n probleem om verskillende soorte kos te eet nie. Maar ’n Christen wie se geloof nog nie so groot is nie, sal weier om kos te eet wat deur die Jode as onrein beskou word, of kos wat deur ongelowiges aan hulle afgode gewy is. Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle. Wie dink jy is jy dat jy so maklik ’n oordeel uitspreek oor die manier waarop ander mense hulle geloof uitleef? God self sal mos besluit of hulle reg doen of nie. Dit is nie jou werk nie. In elk geval, mense wat in God glo, al doen hulle dit op ’n ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg. Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel. Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ’n ander dag te hou, doen dit dan tot eer van die Here. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van die Here. Sê vir God dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouings bots, doen dit ook tot eer van die Here. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet. Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here. Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom. Dit geld terwyl ons nou nog lewe, maar ook later wanneer ons doodgaan. Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees. Waarom veroordeel jy dan nog jou broer in die Here? En waarom verag jy jou suster in die Here? Dit is nie jou werk om regter oor ander gelowiges te speel nie. God sal dit doen wanneer ons almal eendag voor Hom staan. Die Bybel sê mos: “‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘alle mense op aarde sal voor My die knie buig. Almal sal erken dat Ek God is.’” Sorg daarom dat jou eie saak reg is wanneer jy die dag voor God se troon moet gaan staan. Want jy sal op daardie dag net verslag oor jou eie lewe aan Hom moet doen.

ROMEINE 14:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Julle moet medegelowiges met ’n sensitiewe geloofsbelewing aanvaar sonder om hare te kloof oor hulle oortuigings. Een persoon sal byvoorbeeld glo ’n mens kan maar alles eet. Maar ’n ander een, met ’n meer sensitiewe geloof, eet weer net groente. Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom. Wie gee jou die reg om oor iemand anders se huiswerker te oordeel? Dit is vir elkeen se eienaar om te besluit of hy die toets slaag of nie. Hy sál egter slaag, want die Here is magtig om hom te láát slaag. Net so is daar dié vir wie die een dag meer besonders is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou. Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband. Dié wat ’n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here. Dié wat alles eet, doen dit ook vir die Here, want hulle dank God daarvoor. En dié wat net sekere soorte kos eet, doen dit vir die Here, want ook hulle dank God daarvoor. Ons het nie finale seggenskap oor onsself nie – of ons lewe of sterwe. As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom. Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy dan, waarom veroordeel jy jou medegelowige? En jy weer, waarom sien jy neer op jou medegelowige? Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn. Die Skrif sê mos: “So seker as Ek lewe,” verklaar die Here, “elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.