Romeine 10:5-21

Romeine 10:5-21 AFR20

Moses skryf immers van die geregtigheid wat op grond van die wet verkry word: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” Maar die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê, ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” – met die bedoeling om •Christus af te bring – “of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Dit maak inderdaad geen verskil of jy 'n Jood of 'n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!” Nie almal het egter aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja vra immers: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?” Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus. Ek vra egter: “Het hulle dit dan nie gehoor nie?” Inderdaad, want: “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan, en hulle woorde tot by die uithoeke van die bewoonde wêreld.” Ek vra weer: “Het Israel dit dan nie verstaan nie?” Eers sê Moses: “Ek gaan julle jaloers maak op mense wat geen volk is nie; oor 'n onkundige volk gaan Ek julle kwaad maak.” En Jesaja gaan selfs so ver om te sê: “Ek is gevind deur diegene wat nie na My gesoek het nie; Ek het verskyn aan diegene wat nie na My gevra het nie.” Maar van Israel sê hy: “Die hele dag deur het Ek my hande uitgestrek na 'n ongehoorsame en opstandige volk.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid