Romeine 1:20-25

Romeine 1:20-25 AFR20

Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir 'n afbeelding soos dié van 'n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen.