ROMEINE 1:20-25
ROMEINE 1:20-25 Bybel vir almal (ABA)
Mense sien van die begin af alles wat God gemaak het. Hulle kan nie vir God sien nie, maar hulle kan verstaan dat Hy altyd sterk is en dat Hy God is. Hulle kan dit weet omdat hulle sien wat Hy gedoen het. Daarom kan hulle nie sê dat hulle dit nie weet nie. Hulle ken God, maar hulle respekteer Hom nie en hulle sê nooit vir Hom dankie nie. Hulle is dom, hulle doen nie wat God wil hê nie. Hulle verstaan niks, hulle is soos mense wat in die donker lewe. Hulle dink hulle is slim, maar hulle doen nie wat God wil hê nie. God is Koning, Hy kan nooit sterf nie, maar hulle dien Hom nie. Hulle kies om afgode te dien, beelde wat lyk soos mense, mense wat sterf, of beelde wat lyk soos voëls of diere of slange. Daarom los God hulle sodat hulle die slegte dinge kan doen wat hulle graag wil doen, dinge wat wys dat hulle nie mekaar se liggame respekteer nie. Hulle glo nie die waarheid van God nie, hulle kies om hulle eie leuens te glo. God het alles gemaak, maar hulle aanbid en dien die dinge wat Hy gemaak het, hulle aanbid nie vir God nie, God vir wie almal altyd moet prys. Amen.
ROMEINE 1:20-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer — hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.
ROMEINE 1:20-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.
ROMEINE 1:20-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir 'n afbeelding soos dié van 'n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen.
ROMEINE 1:20-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af duidelik gesien word deur die dinge wat gemaak is, naamlik sy ewige krag en Godheid; sodat hulle sonder verskoning is: Omdat hulle, toe hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik het nie en ook nie dankbaar was nie; maar het ydel geword in hulle verbeelding, en hulle dwase hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword, En het die heerlikheid van die onverganklike God verander in 'n beeld wat gelyk is aan die verganklike mens en aan voëls en viervoetige diere en kruipende diere. Daarom het God hulle ook aan onreinheid oorgegee deur die begeerlikhede van hulle eie harte, om hulle eie liggame onder mekaar te oneer; wat die waarheid van God in 'n leuen verander het en die skepsel meer aanbid en gedien het as die Skepper, wat tot in ewigheid geseën is. Amen.
ROMEINE 1:20-25 Die Boodskap (DB)
Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie. Hulle weet baie goed wie God is. Hulle weier egter om Hom te aanbid of Hom te dank vir al die goedheid wat Hy aan ons bewys. Daarom dat hulle soos ’n spul dwase optree. Hulle hele lewe is een stuk donkerte. Tog maak hulle asof hulle verskriklik slim is, al is hulle eintlik dom en sonder insig. Hierdie mense het selfs so ver gegaan om hulle eie gode te maak. Hulle het die voorreg om die ewige God te ken gaan staan en verruil vir ’n spul handgemaakte gode. Nou buig hulle voor dié lewelose afbeeldings van mense, voëls, diere en reptiele. God laat egter nie toe dat mense sy groot Naam deur die modder sleep nie. Daarom het Hy besluit om hierdie mense te straf deur hulle aan hulle eie lot oor te laat. Nou leef hulle al hulle sondige begeertes na hartelus uit. Die gevolg: hulle het erger as ’n klomp varke geword omdat hulle meedoen aan elke denkbare vorm van seksuele losbandigheid. En dit net omdat hulle die waarheid verruil het vir ’n spul leuens. In plaas daarvan dat hulle voor die Skepper buig, verkies hulle om voor hulle eie handewerk te buig. Dit is ’n groot fout. Daar is immers maar net een God wat tot in alle ewigheid aanbid moet word.
ROMEINE 1:20-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie. Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan. Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld. Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen. Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen!