Openbaring 3:7-22

Openbaring 3:7-22 AFR20

“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. “ ‘Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou 'n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal sorg dat hulle kom, en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet. Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. “ ‘Wie oorwin, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” “Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Laodisea: “Dit sê die •Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping, “ ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Diegene wat Ek liefhet, berispe en tug Ek: Wees dan ywerig en bekeer jou! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My. “ ‘Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

Video vir Openbaring 3:7-22