DIE OPENBARING 3:7-22

DIE OPENBARING 3:7-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. “ ‘Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou 'n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal sorg dat hulle kom, en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet. Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. “ ‘Wie oorwin, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” “Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Laodisea: “Dit sê die •Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping, “ ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Diegene wat Ek liefhet, berispe en tug Ek: Wees dan ywerig en bekeer jou! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My. “ ‘Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

DIE OPENBARING 3:7-22 Bybel vir almal (ABA)

“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Filadelfia skryf: Die Heilige doen altyd wat Hy sê. Hy het die sleutel van koning Dawid. As Hy 'n deur oopsluit, dan kan niemand dit toesluit nie, en as Hy iets toesluit, dan kan niemand dit oopsluit nie. Hy sê: Ek weet wat jy doen. Jy is nie sterk nie, maar jy het gedoen wat Ek vir jou sê en jy was nie bang om te sê dat jy aan My behoort nie. Daarom het Ek vir jou 'n deur oopgemaak sodat jy by My kan wees. Daar is mense in julle stad wat sê hulle is Jode, maar hulle lieg, hulle is nie Jode nie. Hulle kom bymekaar in 'n sinagoge, maar dit is die sinagoge van die Satan. Ek sal hulle voor jou laat kniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Hulle sal dan weet dat Ek lief is vir jou. Ek het gesê jy moet geduldig wees wanneer mense slegte dinge doen aan jou omdat jy aan My behoort, en jy was geduldig. Daarom sal Ek jou beskerm. Al die mense op die aarde sal baie swaar kry wanneer Ek hulle sal toets, maar Ek sal jou beskerm. Ek sal gou kom! Jy moet aanhou glo soos jy nou glo! Dan sal niemand jou kan keer nie, jy sal oorwin. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek sê jy mag 'n pilaar wees in die tempel van my God. Ja, jy sal in die hemel wees en jy sal nooit weer daar uitgaan nie. Ek sal my God se Naam op jou skryf en Ek sal die naam van my God se stad, die Nuwe Jerusalem, op jou skryf. Die Nuwe Jerusalem kom van my God, dit kom van die hemel. Ek sal ook my eie nuwe Naam op jou skryf. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!” “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Laodisea skryf: Die Een wat altyd doen wat Hy belowe, praat met jou, Hy wat altyd die waarheid praat en nooit lieg nie. Hy is die belangrikste, Hy laat alles en almal lewe, almal en alles wat God gemaak het. Hy sê: Ek weet alles wat jy doen. Jy is soos lou water, jy is nie koud nie en jy is ook nie warm nie. Ek wens jy was koud of jy was warm. Ja, jy is soos lou water, nie koud nie en ook nie warm nie. Daarom sal Ek jou uit my mond uitspoeg. Jy dink jy is ryk, baie ryk, jy dink jy het niks nodig nie. Maar jy is verkeerd, jy weet nie dat dit baie sleg gaan met jou nie. Mense moet jammer wees vir jou, jy is soos iemand wat arm en blind is en wat nie klere het nie. Ek wil hê jy moet na My toe kom. Dan sal jy by My ware goud koop en jy sal waarlik ryk wees. Ek sal vir jou wit klere gee, en niemand sal jou kaal liggaam sien nie. Ek sal vir jou salf gee om aan jou oë te smeer sodat jy waarlik kan sien. As Ek lief is vir mense, dan straf Ek hulle en Ek leer vir hulle om die regte dinge te doen. Daarom moet jy begin lewe soos Ek wil hê, en jy moet hard werk vir My! Ja, Ek is soos iemand wat by 'n deur staan en klop. As iemand my stem hoor en hy maak die deur oop, dan sal Ek inkom. Ek sal saam met hom eet, en hy sal saam met My eet. Ek het oorwin en Ek het saam met my Vader op sy troon gaan sit. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou sê jy mag saam met My regeer, jy mag saam met My op my troon sit. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”

DIE OPENBARING 3:7-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie: Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg — Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het. Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie. Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. EN skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 3:7-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia: So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie: Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg – kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg. Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal. Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 3:7-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. “ ‘Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou 'n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal sorg dat hulle kom, en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet. Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. “ ‘Wie oorwin, sal Ek 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ” “Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Laodisea: “Dit sê die •Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping, “ ‘Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is. Was jy nou maar koud of warm! Maar omdat jy louwarm is – nóg warm, nóg koud – gaan Ek jou uit my mond spoeg. Omdat jy sê, “Ek is ryk, ek het skatryk geword, en het aan niks gebrek nie,” en nie besef dat jy ellendig en bejammerenswaardig, brandarm, blind en naak is nie, raai Ek jou aan om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is, sodat jy ryk kan wees; en wit klere, sodat jy jou kan aantrek, en die skaamte van jou naaktheid nie sigbaar word nie; en salf om aan jou oë te smeer, sodat jy kan sien. Diegene wat Ek liefhet, berispe en tug Ek: Wees dan ywerig en bekeer jou! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My. “ ‘Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

DIE OPENBARING 3:7-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfia; Dit sê die Heilige, die Waaragtige, Hy wat die sleutel van Dawid het, hy wat oopmaak en niemand sluit nie; en sluit toe, en niemand maak oop nie; Ek ken jou werke; kyk, Ek het 'n geopende deur voor jou gestel, en niemand kan dit sluit nie, want jy het 'n bietjie krag en het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek maak hulle uit die sinagoge van Satan wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal hulle laat kom en voor u voete aanbid en weet dat Ek U liefgehad het. Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar van die uur van versoeking wat oor die hele wêreld sal kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou; hou vas wat jy het, dat niemand jou kroon neem nie. Hom wat oorwin, sal Ek 'n pilaar maak in die tempel van my God, en hy sal nie meer uitgaan nie; en Ek sal op hom die naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en ek sal my nuwe Naam op hom skrywe. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense; Hierdie dinge sê die Amen, die getroue en waaragtige getuie, die begin van die skepping van God; Ek ken jou werke, dat jy nie koud of warm is nie; ek sou jy koud of warm was. Omdat jy dan lou is en nie koud of warm nie, sal ek jou uit my mond spuug. Omdat jy sê: Ek is ryk en het vermeerder met goed en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat jy ellendig en ellendig en arm en blind en naak is nie. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat in die vuur beproef is, sodat jy ryk kan word; en wit klere, sodat jy aangetrek kan word en die skande van jou naaktheid nie verskyn nie; en salf jou oë met oogsalf, dat jy kan sien. Almal as wat ek liefhet, bestraf en tugtig ek; wees dan ywerig en bekeer my. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop; as iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek na hom ingaan en saam met hom maaltyd hou, en hy saam met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

DIE OPENBARING 3:7-22 Die Boodskap (DB)

Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Filadelfia: Hier is ’n boodskap vir julle. Dit kom van Jesus af wat nie een stukkie valsheid of leuen in Hom het nie. God is die fokus van sy hele lewe. Hy het die sleutel van Dawid om vir mense die deur na die nuwe Jerusalem oop te sluit of toe te sluit. Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie. Ek weet waarmee julle julle besig hou. Kyk mooi. Ek het vir julle ’n deur oopgemaak. Niemand kan dit toemaak nie. Julle invloed in Filadelfia is maar klein. Ek weet dit! Maar dit bring julle nie van stryk nie. Julle leef soos Ek van julle vra. Boonop is julle nie skaam of bang om te erken dat julle Christene is nie. Kyk! Daar is mos mense in julle dorp wat hulleself graag Jode noem en voorgee dat hulle deel is van God se mense. Maar waar kry jy hulle? Natuurlik, op die plek waar net die duiwel se mense bymekaarkom. Ek sal persoonlik sorg dat hierdie mense wat so baie van hulleself dink eendag voor julle sal moet kom staan. Daar voor julle sal hulle op hulle knieë moet val en laag moet buig. Een ding sal hulle dan deeglik besef: dat Ek aan julle kant is omdat Ek julle liefhet. Ek het julle gevra om nie moed te verloor nie en julle het regtig vasgebyt tot die einde toe. God sal in ’n stadium elke mens op hierdie aarde toets. Daar gaan dinge gebeur wat swaar is. In hierdie baie moeilike tye kan elke gelowige maar weet: Ek sal na hom kyk! Ek kom een van die dae na julle toe. Hou vas aan wat julle het sodat niemand julle dalk pootjie op julle pad om geestelike wenners te wees nie. Vir ’n geestelike wenner wag daar ’n groot beloning. Hy sal vir ewig en altyd naby God self wees. In God se huis self sal hy ’n baie belangrike plek hê. Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God. Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. (Hier verwys ek na die nuwe Jerusalem. Dit is uiteindelik God se groot gawe uit die hemel vir ons.) Die derde naam sal my eie Naam wees. Wie kan hoor, laat hom luister na wat die Heilige Gees vir die Christene te sê het. Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Laodisea: Die Een wat waarborg dat dinge sal wees soos dit moet wees, het vir julle ’n boodskap. Wat Hy sê, kan julle maar glo, en alles wat Hy sê of doen, is waar. Dit is soos God dit wil hê. Jesus is die Een wat die skepping van God aan die gang gesit het. Dit is Hy wat nou met julle praat. Julle kan niks vir My wegsteek nie. Ek weet wat julle doen en Ek is glad nie tevrede nie. Julle is nie koud nie, maar ook nie warm nie. Was julle tog maar een van die twee! Nou is julle so tussenin, so louerig. Ek hou niks daarvan nie. Om die waarheid te sê, as julle so aanhou, sal Ek later niks meer met julle te doen wil hê nie. Julle is nogal die mense wat dit waag om te spog. “Kyk hoe ryk is ons,” sê julle. “Kyk hoe gaan ons vooruit. Ons het niks van iemand nodig nie, want kyk net wat het ons alles!” Ai, al hierdie gespog maak dat julle heeltemal blind is vir hoe pateties dit regtig met julle gaan. ’n Mens wil eintlik sommer oor julle aan die huil gaan. Kyk net hoe lyk julle: julle is geestelik brandarm en bankrot. Boonop besef julle dit nie eens nie, want julle is soos blindes. Laat Ek julle goeie raad gee: kom koop geestelike goud by My en kom vind uit hoe dit voel om iets te hê wat regtig die moeite werd is. Kom kry by My behoorlike, geestelike klere en trek dit aan. Dan hoef julle nie meer uit verleentheid te probeer wegsteek dat julle eintlik geestelik kaal is nie. Ek het ook net die regte medisyne om op julle oë te sit sodat julle geestelik weer kan sien wat julle behoort te sien. Mense vir wie Ek regtig omgee, help Ek reg. Ek wys vir hulle wat Ek van hulle verwag. Soms moet Ek hulle op die regte pad hou op maniere wat nie vir hulle lekker is nie. Maar Ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly. Nou toe, Ek praat ook met julle. Sit skouer aan die wiel. Los al die afdraaipaadjies en stap net agter God aan. Kyk mooi na My. Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand dit hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap na hom toe. Ons sal saameet soos baie goeie vriende behoort te doen. Die Christen wat hom nie van stryk laat bring nie, maar enduit aanhou, sal voor God ’n ware wenner wees. Ek sal sorg dat hy langs My op die troon sal sit. Ek het alles presies gedoen soos my Vader van My verwag het. Daarom is Ek ’n wenner wat nou langs my Vader op sy troon sit. Wie kan hoor, moet goed luister na wat die Heilige Gees vir al die Christene te sê het.

DIE OPENBARING 3:7-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Skryf aan die voorganger van die gemeente in Filadelfia. So sê die Heilige, die Betroubare – Hy wat die sleutel van Dawid hou en deure oopsluit, en niemand kan dit toesluit nie; en Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie: Ek ken jou handel en wandel. Kyk, Ek het ’n geopende deur voor jou gegee en niemand kan dit weer toemaak nie. Al het jy ook net beperkte krag, het jy my boodskap nogtans gehoorsaam en My nie verloën nie. Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie, maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het. Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word. Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie. Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die getroue en betroubare getuie, die oorsprong van God se skepping: Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm. Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg. Jy sê: “Ek is ryk; ek het skatryk geword en het aan niks behoefte nie.” Jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en kaal. Ek gee jou daarom die raad om by My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk kan word; en koop vir jou wit klere om aan te trek sodat die skande van jou naaktheid nie algemeen sigbaar word nie; en koop ook oogsalf om aan jou oë te smeer sodat jy kan sien. Ek berispe en straf almal wat Ek liefhet. Kry lewe en kom tot inkeer! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet. Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.