Psalms 95:1-11

Psalms 95:1-11 AFR20

Kom, laat ons voor die HERE jubel, laat ons juig tot eer van die rots wat ons verlos. Laat ons tot Hom nader met dankliedere, met lofgesange juig tot sy eer. Want die HERE is 'n groot God, 'n groot Koning bo al die gode, in wie se hand die dieptes van die aarde is, en aan wie die kruine van die berge behoort, aan wie die see behoort. Ja, Hy het dit gemaak, en die droë grond met sy hande gevorm. Gaan in, laat ons in aanbidding buig en kniel, laat ons op ons knieë staan voor die HERE, ons Maker. Want Hy is ons God en ons is die volk wat Hy laat wei, die kleinvee van sy hand. As julle vandag maar net na sy stem wou luister! “Moenie julle harte verhard soos by Meriba, soos die dag by Massa in die woestyn, waar julle voorouers My versoek het, My beproef het, selfs nadat hulle my dade gesien het nie. Veertig jaar lank het Ek 'n weersin gehad in daardie groep mense, en Ek het gesê, ‘'n Volk met harte wat dwaal, is hulle, en hulle ken nie my paaie nie – hulle oor wie Ek in my toorn gesweer het: “Hulle sal my rusplek nie binnegaan nie!” ’ ”