Psalms 91:1-16

Psalms 91:1-16 AFR20

Hy wat in die beskutting van die Allerhoogste woon, sal oornag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sê vir die HERE: “My skuilplek, my bergskuiling, my God op wie ek vertrou!” Ja, Hy is die Een wat jou red uit die net van die voëlvanger, van die dodelike pessiekte. Met sy vlerke sal Hy jou bedek, onder sy vleuels sal jy skuiling vind. 'n Skild en 'n skans is sy trou. Jy sal nie bang wees vir die verskrikking van die nag, vir 'n pyl wat oordag vlieg nie, vir 'n pessiekte wat in die donker rondloop, vir die epidemie wat helder oordag verwoes nie. Daar kan duisend langs jou val, en tienduisend aan jou regterkant, naby jou sal dit nie kom nie. Jy sal maar net toekyk – die vergelding van goddeloses sal jy sien. Ja, U, HERE, is my skuilplek. Die Allerhoogste het jy jou woning gemaak: Onheil sal jou nie oorval nie en 'n plaag sal nie naby jou tent kom nie, want Hy sal sy engele oor jou opdrag gee om jou te beskerm op al jou paaie. Op die hande sal hulle jou dra, sodat jou voet nie teen 'n klip stamp nie. Op leeus en horingslange sal jy trap, jong leeus en slange sal jy vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom bevry; Ek sal hom beskerm omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom antwoord. Ek sal by hom wees in nood; Ek sal hom red en aan hom eer gee. Met 'n lang lewe sal Ek hom versadig; Ek sal hom my verlossing laat ervaar.”

Video for Psalms 91:1-16