PSALMS 91:1-16

PSALMS 91:1-16 NLV

Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die HERE sê: “U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou.” Verseker sal Hy jou red uit die strik van die voëlvanger, en van die plaag wat vernietig. Hy sal jou oordek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou sal jou beskerm soos ’n skild. Jy sal nie bang wees vir die skrik van die nag, of die pyle van die dag; vir die plaag wat in die donker kom, of die ramp wat teen die middag verwoes nie. Al sou duisend langs jou val, of tienduisend om jou sterf, naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou, en die straf van die goddelose sien. As die HERE jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref, en geen ramp naby jou tent kom nie. Want Hy sal sy engele beveel om jou te beskerm oral waar jy gaan. Hulle sal jou op die hande dra sodat jy nie jou voet teen ’n klip stamp nie. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. “Omdat hy My liefhet, sal Ek hom verlos; omdat hy my Naam ken, sal Ek hom beskerm. Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel. Ek sal hom ’n lang lewe gee, en hy sal my verlossing sien.”