'n Lied. 'n Psalm. Van Asaf. O God, moet tog nie stilbly nie; moet U nie doof hou nie en moenie stil wees nie, o God. Want kyk, u vyande is rumoerig, u haters loop kop omhoog. Teen u volk maak hulle listig planne, hulle beraadslaag teen dié wat deur U beskerm word. Hulle het gesê: “Kom ons wis hulle uit as 'n nasie sodat die naam Israel nie meer onthou word nie.” Ja, hulle het eendragtig saamgespan; teen U het hulle 'n verdrag gesluit: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die nageslag van Hagar, Gebal, Ammon en Amalek, Filistea en ook die inwoners van Tirus. Ook Assirië het by hulle aangesluit; hulle het die nageslag van Lot die hand gereik. Maak met hulle soos met Midian, soos met Sisera, soos met Jabin by die spruit Kison. Hulle is uitgedelg by En-Dor, hulle het mis geword vir die grond. Maak met hulle, met hulle vooraanstaandes, soos met Oreb en Seëb, met al hulle stamhoofde soos met Seba en Salmunna, wat gesê het: “Laat ons die weivelde van God in besit neem.” My God, maak hulle soos tolbosse, soos kaf voor die wind. Soos vuur 'n bos verbrand, soos 'n vlam berge aan die brand steek, so moet U hulle agtervolg met u stormwind, hulle met u storm in verwarring bring. Bedek hulle gesigte met skande, sodat hulle kan vra na u Naam, HERE. Laat hulle vir altyd beskaamd staan en verskrik wees; laat hulle in die skande kom en ten gronde gaan.
Lees Psalms 83
Deel
Vergelyk alle weergawes: Psalms 83:1-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's