Psalms 78:65-72

Psalms 78:65-72 AFR20

Toe het my Heer asof uit die slaap wakker geword, soos 'n held uit die roes van wyn. Hy het sy teenstanders teruggedryf en ewige bespotting oor hulle gebring. Hy het die tent van Josef verwerp en die stam van Efraim nie gekies nie. Maar Hy het die stam van Juda gekies, die berg Sion wat Hy liefhet. Hy het sy heiligdom soos die hoogste hemele gebou, soos die aarde, wat Hy vir altyd gevestig het. Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies, en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom laat haal om Jakob, sy volk, op te pas, Israel, sy eiendom. Dawid het hulle met 'n opregte hart opgepas; met die vaardigheid van sy hande het hy hulle gelei.